CrimeNews

Angsnag vir pa en dogter in Pta-Oos

“Die rowers het my kind herhaaldelik gedreig en gesê: ‘We will rape you and we will kill you’.”

’n Pa en dogter in Pretoria-Oos, is Donderdagaand deur drie rowers in hul huis aangehou.

’n Lynnwood Glen inwoner, wat nie haar of haar gesin se name bekend wou maak nie, sê sy was nog op kantoor toe haar man en dogter tuis oorval is.

“Dit was nog vroeg die aand, omstreeks 19:30, toe hulle (rowers) by ons huis ingebreek het.”

Die vrou sê die rowers is deur twee buitehekke, voordat hulle die deur en ook veiligheidshek van die huis oopgedwing het.

“My man is in die TV-kamer oorrompel en my dogter is in die kombuis oorval.”

Haar man (71) en hul dogter (31) is na die hoofslaapkamer van die huis gesleep waar hulle vasgebind is.

LEES OOK: NUUSFLITS: Bejaarde man dood, vrou aangerand in wrede aanval by huis

“Hulle hande en voete is vasgemaak met tou en skoenveters wat die rowers in ons huis en motorhuis gekry het.”

“Die rowers het ook kussingslope in hulle monde gedwing om hulle stil te hou.”

Die vrou sê haar dogter is na die badkamer gebring terwyl haar man aangerand en geskop is deur een van die rowers.

“Hulle (rowers) het my kind herhaaldelik gedreig en gesê: ‘We will rape you and we will kill you’.”

Twee van die rowers was gewapen en die vrou sê hulle het dié vuurwapens op haar man en dogter gehou.

“Hulle het eers vir ’n kluis en wapens gesoek – wat ons nie het nie.”

LEES OOK: Kleinkind en ouma aangerand

“My man het darem kopgehou en hulle vertel waar my juwele is.”

Sy sê die rowers het met juwele, elektroniese ware en selfone uit die huis gevlug.

“Die huis was skielik weer stil. My man het vir my dogter gesê om ’n mes in die kombuis te kry en hulle het hulself bevry en die huis se alarm aktiveer.”

Polisie is ook na die toneel ontbied.

Polisiewoordvoerder Kaptein Colette Weilbach sê ’n huisroof word ondersoek.

LEES OOK: Man wreedaardig aangerand in mes-aanval

“Sover is nog niemand in hegtenis geneem nie en ons vra dat inwoners op hul hoede moet wees,” sê Weilbach.

“Misdade kan enige tyd van die dag plaasvind. Inwoners moet op die uitkyk bly vir verdagte persone en voertuie in Lynwood Glen en omliggende omgewings.”

 

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button