Meer en meer troeteldiere word naby Zandfonteinbegraafplaas in die weste van Pretoria weggegooi.
Só sê ’n inwoner wat onlangs katte gered het nadat dié by ’n motor by die begraafplaas uitgegooi is.
Vroeër die week het die inwoner vertel hoe ’n vrou haar kat en dié se vyf kleintjies by ’n motor se deur uitgegooi het.
“Ek kon nie glo dat van alle plekke, die vrou haar katte net so langs ’n veld sal los nie. Ek het gesien daar was ’n storm aan die broei en het vir die vrou gesê om die katte vir my te gee.”
Sy sê: “Ongelukkig kon ek nie die katjies hou nie en moes hul na die plaaslike dierebeskermingsvereniging neem.”
LEES OOK: Vrou gooi katte by motor uit in Pta
Die Andeon-kleinhoewe-inwoner sê sy het reeds sewe katte en drie honde wat sy aangeneem het nadat dié weggegooi is naby die begraafplaas.
“Ons sien gereeld rondloper diere hier. Mense sal tot die karkasse van diere hier kom los eerder as om daardie dier, wat hulle so lief gehad het, te begrawe.”
Sy sê: “So ’n rukkie terug het ’n hondjie hier by ons aangekom. Ek weet nie hoe sy onder die heining deurgekom het nie… miskien omdat sy so maer en uitgeteer was.”
Die inwoner vermoed die hond, wat sy Lassie genoem het, is deur haar vorige eienaar mishandel.
“Sy is verskriklik bang en versigtig vir mense,” sê sy.
“Dit het ’n rukkie geneem, maar nou is sy weer gesond en gelukkig.”
Cilla Trexler van Wollies-diereprojek in die noorde van Pretoria, het gemaan dat mense hul diere moet laat steriliseer.
Sy sê Wollies, wat skuiling bied vir verlate en mishandelde diere, is vol en het dringend hulp nodig van die gemeenskap.
LEES OOK: Katkind met windbuks geskiet in Doornpoort
Mense word aangeraai om diere aan te neem eerder as te koop.
Trexler vra dat mense ook gevalle van dieremishandeling moet aanmeld.
“Daar is organisasies wat die diere kan help. Om ’n dier te mishandel of weg te gooi langs ’n pad, is onaanvaarbaar.”
Kyk video:
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
