INFOGRAFIKA: Polisie waarsku oor selfmoord toename in noorde van Pretoria
“Elke selfmoord dreigement moet ernstig opgeneem word. Dit kan dalk net ’n laaste desperate noodkreet wees.”
Sinoville-polisie waarsku oor die skerp toename in selfmoorde, met sowat twee tot drie gevalle wat maandeliks in die omgewing aangemeld word.
Polisiewoordvoerder adjudant-offisier Johan van Dyk het die week hierdie “krisis” aangespreek.
“Moenie toelaat dat selfdood vir jou of jou geliefdes ’n oorweging word nie, maak eerder van gratis hulp tot jou beskikking gebruik om die oorsaak van die gedagtes aan te spreek,” sê hy.
Volgens Van Dyk was daar die afgelope paar maande ’n skerp toename in selfmoorde en poging tot selfmoordvoorvalle wat by die polisie en by die Sinoville-krisissentrum (SKS) aangemeld is.
“Moet nooit iemand wat praat oor selfdood, se praatjie net afmaak nie. In 75 persent van die gevalle waar iemand selfmoord pleeg, het hulle vooraf gepraat, of gedreig, of dit probeer doen,” sê hy.
“Elke selfdooddreigement moet ernstig opgeneem word. Dit kan dalk net ‘n laaste desperate noodkreet wees.”
Colleen Strauss, uitvoerende hoof van SKS, sê voorvalle van selfmoord styg jaarliks wanneer die feesseisoen nader stap.
LEES OOK: Polisie en GPF takel saam misdade in die noorde
“Die grootste oorsaak van selfdood is finansiële druk weens die huidige ekonomiese klimaat en probleme in verhoudings,” sê Strauss.
Sy sê statistieke van die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep (Sadag) dui daarop dat 8 persent van alle sterftes in SA, aan selfmoord toegeskryf kan word.
Dié syfers weerspieël net gevalle wat by staatshospitale aangemeld word.
“Veral mense met ’n geskiedenis van geestesongesteldheid, soos depressie en alkohol- en dwelmmisbruik, moet gevaarligte laat flikker.
“In 60 persent van selfmoorde het die slagoffers met depressie geworstel.”
Van Dyk sê lede van die Sinoville-polisiekantoor werk hand-in-hand saam met beraders van die SKS wat ‘n 24-uur beradingsdiens aan slagoffers in die gemeenskap lewer.
SKS is ’n nie-winsgewende organisasie en is geleë by die polisiekantoor in 257 Konavlestraat, Sinoville.
“Beraders beman dié sentrum van 08:00 tot 20:00, maar die polisie kan die bystandsberader aan diens enige tyd kontak sodra daar ’n noodgeval is,” sê Strauss.
LEES OOK: Polisie-orkes vermaak bejaardes in die noorde
Van Dyk maan mense, wat met selfmoordneigings worstel, om dadelik by die SKS of die polisie aan te klop vir hulp.
“Skakel die SKS by 012-543-9000 of besoek hul kantoor langs die Sinoville-polisiekantoor.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
