Nog ’n oop veld in die weste van Pretoria is besig om in ’n bron van kommer te ontaard.
Hierdie veld in Van Dalsenstraat, Wespark is al selfs deur die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) as ’n misdaad-sone gemerk.
GPF-lid Hennie Schuurman sê ’n vrou was Maandagaand omtrent 19:00 by die veld verkrag.
“Die groot probleem wat ons ervaar is dat meestal jong mense gebruik maak van hierdie pad langs die veld,” sê hy.
“Sommiges stap selfs deur die veld.”
Hy sê die GPF hou gereelde patrollies in dié straat wat aan die veld grens.
LEES OOK: Wes-grafte van historiese figure skoongemaak
“Juis daardie Maandagaand het ons 18:30 die veld verlaat. Slegs ’n halfuur later het ons ter hore gekom van die verkragting,” sê hy.
“Toe ons nog daar gestaan het, het ons omtrent ’n stuk van 20 jong mense by die veld sien uitkom. Mense moet begin versigtig wees.”
Plaaslike inwoner en misdaadaktivis, Eric Cordier, sê die beboste veld maak sigbaarheid ’n groot uitdaging.
“Die straat het ook baie slegte beligting in die aand. Met die swak beligting tesame met die beboste veld, is dit onmoontlik om te sien wat aangaan,” vertel hy.
“Ek weet voetgangers is veronderstel om die pad te gebruik, maar al loop hulle in die pad is beligting nog steeds swak.”
Cordier sê hierdie veld is al vir jare ’n doring in die vlees.
Sluipslapers en prostitute het ook al die veld hulle tuiste gemaak.
LEES OOK: Garsfontein maak skoonskip in Sewestoernooi
Schuurman sê: “Ons kry op ’n gereelde basis klagtes oor hierdie veld.”
Cordier sê die veld is ’n goeie wegkruipplek vir misdadigers.
“Misdadigers hardloop deur die veld as hulle deur die polisie gejaag word en dit is maklik om in die donker te verdwyn,” sê hy.
“Hulle steek ook gesteelde goedere daar weg om dit later te kom haal wanneer die polisie van hulle spore verdwyn het.”
Cordier sê ’n dringende plan sal met die veld gemaak moet word.
“Ek weet daar is ’n groot tekort aan behuising en nie almal wat op die veld bly is skuldig nie,” sê hy.
“Maar een slegte kol maak die veld ’n groot probleem en ons kort dringend hulp om ’n plan te maak.”
Die Tshwane metro kon nie bereik word vir kommentaar teen druktyd nie.
https://soundcloud.com/user-213189281/nog-n-probleem-veld-in-die-weste
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
