’n Familie in die noorde van Pretoria is in rou oor ’n man se skietdood in ’n rooftog op die N4-deurpad naby die Rosslyn-afrit.
Die 45-jarige Chris le Roux (Junior) is Vrydagaand ten aanskoue van sy vriendin geskiet toe drie rowers hulle oorweldig het.
LEES OOK: NEWSFLASH: Stranded man shot by robbers on N4 highway in the North
Le Roux se stiefma Cathrin het vroeër aan Rekord vertel dat Le Roux se voertuig langs die pad gaan staan het.
Hy was op pad na sy huis om sy kleindogter die aand op te pas.
Cathrin het vertel hoe drie mans Le Roux en sy vriendin langs die pad aangeval het.
“Hulle het haar (vriendin) aan die hare gegryp en wou haar na die bosse toe sleep, waarskynlik om te verkrag.”
Cathrin sê sy glo Le Roux wou sy vriendin beskerm het voordat hy geskiet is.
Na Le Roux gewond is, het die drie rowers gevlug. Hulle het net Le Roux se beursie en selfoon gebuit.
LEES OOK: UPDATE: Man shot on N4 freeway North dies
Cathrin sê Le Roux se dogter en kleindogter was na die skietvoorval op toneel.
“Sy kleinkind was erg ontsteld toe sy hom sien,” sê Cathrin.
’n Paramedikus van Netcare 911 was eerste op die toneel waar Le Roux in ’n ernstige toestand aangetref is.
“Hy (Le Roux) het baie bloed verloor weens ’n hoofslagaar wat beskadig is in die skietvoorval,” sê Cathrin.
Tshwane-ambulansdienste het Le Roux na Steve Biko akademiese hospitaal gehaas.
“Hy het bloed ontvang en is by die hospitaal gestabiliseer. Ek het werklik gedink hy sou dit maak, want hy is ’n sterk man,” sê Le Roux.
Cathrin sê sy en Le Roux se pa Chris is na agt ure in die hospitaal terug na hul huis om te rus voor hulle weer terug sou gaan hospitaal toe.
“Skaars ’n halfuur later het hulle ons gebel met die nuus. Chris (Junior) is is net voor vier Saterdagoggend oorlede,” vertel Cathrin hartseer.
Sy sê sy haar stiefseun se dood het haar verbitterd gelaat.
“Sy dood was onnodig. Dis weens ’n gebrek aan dissipline en wetstoepassing dat dinge gaan soos gaan in ons land,” sê Cathrin.
Sy beskryf Le Roux as ’n man wat baie lief was vir sy familie.
“Hy was ook ’n uitstekende werktuigkundige. Daar was niks wat Chris nie kon reg maak met sy hande nie.”
LEES OOK: OPVOLG: Noord militêre skieter verwag om in hof te verskyn
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
