CrimeNews

INFOGRAFIKA: Waak teen straatverkopers en grypdiewe in die noorde, waarsku polisie

’n Straatverkoper het glo ’n skoonmaakmiddel-houer gevul met gebruikte kondome aan ’n motoris gesmous.

Polisie waarsku motoriste om op die uitkyk te bly vir grypdiewe asook straatverkopers wat nagemaakte en moontlik gevaarlike produkte smous in die noorde van Pretoria.

Grypdiewe op straathoeke wat wag vir die geleentheid om waardevolle items uit motors te gryp, bly ’n gevaar.

Inwoners word ook gewaarsku teen verkopers op straat wat geld neem by motoriste in ruil vir valse produkte.

Polisiewoordvoerder adjudant-offisier Johan van Dyk sê klagtes oor straathandelaars in die Sinoville-omgewing word gereeld by die polisiekantoor aangemeld.

“Handelsmerkprodukte word goedkoper op strate gesmous deur straatverkopers, maar in baie gevalle word hierdie produk aangevul of nagemaak wat soms ook nie veilig vir gebruik is nie,” sê Van Dyk.

LEES OOK: INFOGRAFIKA: Polisie waarsku oor selfmoord toename in noorde van Pretoria

Hy sê ’n motoris het onlangs ’n skoonmaakmiddelhouer gevul met kondome gekoop by een van dié straathandelaars.

“Die houer was gevul met wat moontlik gebruikte kondome is, om die half leë bottel vol te maak,” sê Van Dyk.

“Daar word gevind dat van hierdie skoonmaakprodukte wat op straat te koop is, aangevul word met goedkoper vloeistowwe of water.”

Van Dyk sê menige van dié produkte is ook nie veilig vir gebruik nie.

 

Grafiek deur Corlia Kruger

“Sou die koper sy huis skoongemaak het met die skoonmaakproduk waarin die kondome gevind is, sou dit ’n ernstige gesondheidsrisiko wees,” sê hy.

“Ons vra dat mense nie hierdie onwettige handelaars ondersteun nie – vir hul eie veiligheid.”

Grypdiefstal bly ook ’n kommer.

In Pretoria-Noord sê polisiewoordvoerder kaptein Rebecca Phatlane, moet mense waak teen diewe wat hulself as bedelaars voorgee.

LEES OOK: WAARSKUWING – GRAFIESE INHOUD: Twee beseer na mesaanvallers toeslaan

“Motoriste moet liefs glad nie bedelaars op straathoeke ondersteun nie,” sê Phatlane.

“Ons kry dikwels klagtes oor grypdiewe wat selfone en elektroniese items uit motors gryp.”

Sy raai motoriste aan om nie waardevolle besittings in hul voertuig te sit waar dit sigbaar is nie.

“Dit gebeur te veel dat mense op hul selfone praat terwyl hulle bestuur. Nie net is dit onwettig en trek dit die motoris se aandag van die pad af nie, maar skep die perfekte geleentheid vir grypdiewe om toe te slaan.”

Phatlane en Van Dyk waarsku ook dat diefstal van en uit motorvoertuie steeds die mees prominente misdade in die noorde van Pretoria is.

Van Dyk het vroeër wenke verskaf aan motoriste om te verhoed dat hul voertuie of besittings gesteel word.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button