MunicipalNews

Inwoners van wes informele nedersetting skuif binnekort

Die datum vir wanneer hierdie skuif sou gebeur was nog nie teen druktyd bekend nie.

Planne is in plek om inwoners van ’n informele nedersetting in die weste van Pretoria te verskuif.

DA-raadslid Frik van Wyk sê inwoners van Gomorrah (Malusi 2) sal verskuif word na waar hulle toegang tot water en elektrisiteit sal hê.

“Die informele nedersetting reg langsaan Gomorrah, Malusi, is alreeds jare gelede ingerig met water en elektrisiteit,” sê hy.

“Vir jare lewe inwoners van Gomorrah sonder water en elektrisiteit. Dit is tyd dat hulle ook toegang kry tot hierdie behoefte.”

Van Wyk sê die plan is om erwe vir die inwoners aan die oorkant van dieselfde veld waar hulle geleë is, in te rig.

“Hierdie erwe sal ongeveer 30 meter van die laaste huis in die residensiële gebied, wat aan die veld grens, gelê word. Sodra die erwe ingerig is, kan inwoners stadig maar seker begin oortrek na hulle nuwe blyplek,” sê hy.

“Al moet hulle eers ’n plakkershut vir hulself oprig wat dalk ’n tydjie mag neem, weet hulle ten minste daar is ’n erf wat vir hulle ingerig is.”

LEES OOK: VIDEO: Wes-inwoners staan saam teen plaasmoorde

Van Wyk sê die rede hoekom die inwoners na dié spesifieke area geskuif sal word, is as gevolg van ’n vleiland wat op die veld geleë is.

“Die vleiland moet ten alle tye bewaar word. Die area waarnatoe hulle skuif was die enigste beskikbare plek,” sê hy.

Van Wyk sê planne is ook in plek om die vleiland heeltemal af te kamp tydens die inrig van die nuwe erwe.

“Die vleiland sal ook dan afgesny bly vir bewaring in die toekoms,” sê hy.

Die datum vir wanneer hierdie skuif sou gebeur was nog nie teen druktyd bekend nie.

Terwyl inwoners van die informele nedersetting verlig is oor die skuif, blyk dit dat sommige inwoners egter ongelukkig oor die skuif sal wees.

Rekord het vroeër vanjaar berig dat inwoners alreeds met hulle hande in hulle hare sit as gevolg van geraas wat van die twee informele nedersettings afkomstig is.

Tuine-inwoner, Louise Bronkhorst, het gesê dat konstante harde geluide en musiek wat uit die informele nedersetting kom, haar moedeloos laat.

LEES OOK: Moot spring in om Plastic View te help

“Soms hou die musiek aan tot 04:30 in die oggend, veral op Sondae,” het Bronkhorst gesê.

“Ons kan nie snags slaap nie. Dit is soms ondraaglik. Ons kan selfs die geraas so vêr as Hoërskool Tuine hoor.”

Sy woon in dieselfde straat as waar die informele nedersetting geleë is.

Sy het ook gesê dat sy vrees vir haar veiligheid.

“Ons het baie rooftogte in ons straat ervaar,” sê sy.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button