’n Man in die Sinoville-omgewing, noord van Pretoria, is Dinsdag in hegtenis geneem vir die aanranding van sy vyfjarige kind.
Polisie-woordvoerder adjudant-offisier Johan van Dyk het die inhegtenisname bevestig en gesê die man, wat se naam weerhou word om die kind se identiteit te beskerm, word aangekla van kindermishandeling en aanranding.
LEES OOK: Oordrom beskadig ná aanranding
“Hy is die aand na sy inhegtenisname op borg vrygelaat,” sê Van Dyk.
’n Betroubare bron het aan Rekord gesê dat ’n kleuterskool die aanranding onder die aandag van ’n liefdadigheidsorganisasie en die polisie gebring het.
“Die klein seuntjie is so geslaan dat sy boude heeltemal pers en blou was,” sê dié bron.
LEES OOK: Ma en kêrel vas nà beweerde aanranding op kleuter
Dit kom na die Gautengse hooggeregshof se beslissing dat lyfstraf, deur ouers, onwettig is.
Die hof het verlede maand gesê dat ouers wat kinders pakslae gee, kan voortaan soos misdadigers vir aanranding verhoor word.
Die bron wat die inligting oor die onlangse aanranding met Rekord gedeel het, sê: “Nie almal van ons stem saam met die hof se beslissing om pakslae tuis te verban nie.
“Maar daar is ’n groot verskil tussen ’n ouer wat sy kind tug en ’n ouer wat sy kind só erg slaan dat hy blou is.”
Die Sinoville-polisie bedank die Wonderboom Christelike Maatskaplike Raad (CMR) vir hul ondersteuning en hulp na die aanranding.
“Die CMR lewer ’n nodige diens in ons gemeenskap en verseker die veiligheid van ons kinders,” sê Van Dyk.
LEES OOK: Pa van twee kinders uit motor geruk en aangerand
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
