CrimeNews

OPVOLG: LUISTER: Nuwe inligting oor onopgeloste moord in die weste

“Haar lyk was toe eers twee dae later op die plek neergesit waar sy gekry is.”

Nuwe inligting het na vore gekom oor ‘n onopgeloste moord in die weste van Pretoria.

Dit volg nadat Denise Erasmus, die ma van die moordslagoffer, ’n anonieme oproep gekry het.

Erasmus sê die vrou het besonderhede bekend gemaak oor wat presies met Marlien du Plessis twee jaar gelede gebeur het.

Erasmus sê volgens die vrou het die misdadigers vir haar dogter ’n oordosis dwelms ingegee, waarop hulle haar daarna verkrag het.

“Hulle [die misdadigers] het haar blykbaar daarna in ’n lap toegedraai en haar met ’n klip geslaan,” sê sy.

“Haar lyk was toe eers twee dae later op die plek neergesit waar sy gekry is.”

LEES OOK: VIDEO: Wes-inwoners staan saam teen plaasmoorde

Erasmus sê die vrou wat die anonieme oproep gemaak het, sê sy weet wie die moordenaar is.

Die vrou wou nie meer sê nie, behalwe dat sy die inligting aan die polisie deurgegee het.

“Ek kan nie meer met die wete leef dat iemand daar buite weet wat met my kind gebeur het en die polisie ingelig het maar daar nog steeds niks daarvan gekom het nie,” sê sy.

Die Pretoria-Wes-polisie het voorheen gesê die twee moordverdagtes wat vir haar moord in hegtenis geneem is, is uit op borgtog.

“Daar is nog nie op ’n hofdatum besluit nie omdat die saak nog ondersoek word,” het hulle gesê.

Die polisie kon nie kommentaar lewer op die nuwe inligting nie.

Du Plessis se lyk is op 16 April 2015 in ’n veld in Danville gekry.

LEES OOK: Wes-familie bied beloning vir onopgeloste moord

Haar lyk was in ’n kombers toegedraai toe mense daarop afgekom het.

Erasmus het aan Rekord vertel die familie is moedeloos.

“Ek skakel omtrent elke maand die polisie en elke keer as ons bel om te hoor wat aangaan word ons afgejak en gesê hulle wag vir forensiese uitslae,” sê sy.

Du Plessis se liggaam is op haar jongste dogter se verjaarsdag gekry.

“Dit is vir ons ’n moelike tyd om ons kleindogter (5) se verjaarsdag te vier terwyl ons weet dat sy nooit weer ’n gewone verjaarsdag sal hê nie.”

Du Plessis was ’n ma van twee dogtertjies en het in Booysens gewoon.

Erasmus sê haar lyk was agter ’n sandhoop gekry, toegedraai in ’n kombers met haar skoene netjies langs haar neergesit.

LEES OOK: OPVOLG: Moordverdagtes op borgtog vir onopgeloste moord in die weste

“My hart skeur uitmekaar om te weet dat my dogter se moordenaar steeds op vrye voet is,” sê Erasmus.

“Ons weet glad nie wat met die saak aangaan nie. Ons wil so graag afskeid neem, maar ons kan nie met my dogter se moordernaars wat nog vry is nie.”

‘n Facebook-blad is ook vir Du Plessis gestig in ’n poging om antwoorde te kry.

Inwoners met enige inligting word aangemoedig om die Pretoria-Wes-polisiestasie te skakel.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button