CrimeNews

Hond met draad vasgemaak in Pta-Noord-parkie

“Sy was so verwaarloos en verwilderd. Sy wou byt van angstigheid en was verskriklik bang vir mense.”

’n Hond is deur barmhartige Samaritane gered nadat die dier met draad vasgebind is in ’n parkie noord van Pretoria.

Pretoria-Noord-inwoner Rachel Raats sê die hond is vroeër dié week in Jopie Fouriestraat, Wolmer aangetref.

“Die hondjie se voete was met draad vasgemaak sodat sy nie kon loop nie,” sê Raats.

“’n Stuk van dieselfde draad is om haar nek gebind.

”Raats wat minderbevoorregte mense en haweloses een keer ’n week by haar huis onthaal en kos gee, sê sy is geskok oor die toestand waarin die hond gevind is.

“Sy was so verwaarloos en verwilderd. Sy wou byt van angstigheid en was verskriklik bang vir mense.”

LEES OOK: Animal cruelty unacceptable

Raats sê: “Een van die mense wat by my kom eet het, het vertel dat hy die hondjie in die park gesien lê het.

“Van my helpers het toe uitgegaan om te gaan kyk en het die diertjie gehelp losmaak.”

Raats sê dit lyk of die hond se eienaars haar mishandel het.

“Sy is vasgemaak en vir dood gelos,” sê sy.

Raats bedank die mense wat gehelp het om die hond te bevry.

Die hond is nou in die sorg van die Wollies-diereprojek in Hesteapark.

Stigter van Wollies, Cilla Trexler, sê daar word weekliks gevalle van dieremishandeling aangemeld.

“Hierdie wreedheid moet gestaak word. Daar is mense en organisasies wat kan help wanneer mense nie meer vir hul diere kan sorg nie.”

Trexler vra dat inwoners mense moet aanmeld wat hulself skuldig maak aan dieremishandeling.

Die hond is in ’n parkie in Wolmer gevind. Foto: Verskaf

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button