OPVOLG: Metro sal ‘vervalle’ HOP-huise in die weste ondersoek
Inwoners van Elandspoort is moedeloos oor die toestand van hulle HOP-huise.
Die metro sal ondersoek instel oor die swak gehalte van sogenaamde HOP-huise in die weste van Pretoria, volgens DA-raadslid Carlo de Bruin.
De Bruin sê hy het die probleem na die metro verwys, nadat hy verskeie klagtes van inwoners ontvang het.
“Inwoners het my laat weet dat hul dakke herhaaldelik lek, die meeste geysers nie werk nie, en huise begin breek skaars vyf jaar nadat hulle gebou is,” het hy gesê.
Hy sê die verantwoordelikheid van maatskaplike behuising sit met die provinsie wat die stad se vermoë om die kwessies heeltemal aan te spreek, beperk.
“Ten tyde van my navraag is ek ook meegedeel dat die waarborg op die geysers verval het en daarom bly dit die inwoners se verantwoordelikheid,” sê hy.
Hy moedig inwoners aan om die behuisingsdepartement te besoek.
Inwoners van Elandspoort is moedeloos oor die toestand van hulle HOP-huise.
LEES OOK:
https://rekordmoot.co.za/118320/west-residents-furious-over-crumbling-rdp-houses/
Hul sê hulle vrees vir hul veiligheid omdat hul huise letterlik uitmekaar val.
Inwoner Angelina Mokoana sê hulle het opgemerk dat hul HOP-huise uitmekaar val toe hulle eers in 2013 ingetrek het.
“Na vele klagtes by die Tshwane metro het niemand ons al gehelp nie.”
Sy sê die vorige wyksraadslid het inwoners gevra om hul bekommernisse neer te skryf en die lys aan hom te gee.
“Terwyl ons op antwoorde gewag het, het die raadslid bedank.”
Mokoana sê hulle het weer na die 2016-verkiesing hul probleme aan die nuwe plaaslike raadslid Carlo de Bruin gerapporteer.
Sy sê inwoners is dankbaar vir hul HOP-huise, maar kon nie onder sulke omstandighede woon nie.
Nog ’n inwoner, Cassandra Nel sê sy is bang haar huis sal op haar inval.
“Die muur is reeds verkrummel en ek is bang dat dit op iemand sal val,” sê sy.
Nel se man is onlangs met kanker gediagnoseer en sukkel om te loop.
“Ek kan hom nie om die huis vat of hom laat buite sit nie, want die muur kan enige oomblik omval,” sê sy.
“Ons moes die muur begin stut met bakstene en hout.”
Die Tshwane metro kon teen druktyd nie kommentaar lewer nie.




Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
