
’n Pa van twee in Pretoria-Noord is in ’n kritieke toestand in die Netcare Montana-hospitaal nadat hy gisteroggend vroeg ses keer geskiet is in ’n vermeende huisbraak.
“Dit is so onwerklik. Ek is nie okay nie; ons is nie heeltemal okay nie. My man lê in die intensiewe-sorgeenheid en veg vir sy lewe,” het Lorna Schoeman aan Rekord gesê.
LEES OOK: Sinoville-polisie slaan toe op dwelmhandelaars
Dit was ’n normale weeksdag vir die Schoeman-gesin in Great Danestraat in Hesteapark toe twee verdagtes skielik die gesin se huis om 04:50 die oggend binne gedring het.
Lorna vertel sy was in die kombuis besig om broodjies vir die kinders vir skool te maak toe sy die slag hoor van die venster wat breek.
“Ek het gehoor hoe iets deur die venster gegooi word. Die volgende oomblik was daar twee inbrekers in ons huis.
“My man het nog deur die slaap by die gang afgekom toe ’n geveg tussen hom en die inbrekers uitbreek. Die volgende oomblik het die skote geklap,” vertel Lorna.
Sy vertel haar man, Jan, is gister per ambulans na die Netcare Montana-hospitaal geneem, waar hy onder sedasie geplaas is.
LEES OOK: Huisbraak in Ninapark vasgevang op kamera
“Die skote het groot skade aangerig. Ek wil net hê my man moet hierdeur kom. Daar is nog ’n lang pad wat voorlê; hy is nog kritiek,” sê Lorna.
Die egpaar se twee kinders, 12 en 18 jaar oud, is ongedeerd.
“Ek kan nie glo hulle het my nie ook geskiet nie. Ek het gestaan en geskree en geskree. Ek het nog nooit in my lewe so geskree nie.
“Ek het gehoop en bid dat hulle nie my of my kinders ook sou seermaak nie. Die kinders is baie bekommerd oor hul pa.”
Die twee verdagtes is na die skietvoorval met die gesin se TV en ’n skoolsak by die Schoemans se huis weg.
“Ek is so dankbaar vir die ambulans wat so vinnig by die huis opgedaag het en die dokters wat aan my man werk. Die Here was met my man en ons gisteroggend.”
’n Familievriend het op Facebook gevra dat die gemeenskap vir Jan moet bid. Hy was teen druktyd steeds in ’n kritieke toestand.
Polisiewoordvoerder Kaptein Matthews Nkoadi het bevestig dat hul ’n saak van poging tot moord ondersoek.
“Die slagoffer was meer as een keer in sy bolyf geskiet voordat hy hospitaal toegeneem was. Die verdagtes het twee televisiestelle gesteel sowel as verskieie ander items.”
To read the article in English, click here.
Do you have more information about the story? Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
