NewsSchools

Agtste skoolhoof deel visie vir Affies

Peregrine Joynt het in 2001 sy loopbaan by Affies afgeskop en is onlangs as die skool se agtste skoolhoof aangestel.

Afrikaanse Hoër Seunskool het die derde kwartaal op ’n hoë noot afgeskop toe hulle hul agtste skoolhoof, Peregrine Joynt, met ’n spesiale saalbyeenkoms verwelkom het.

Die hoofseun Leighton Ferreira, die adjunkhoof Elmarie van Loggerenberg en die beheerliggaamvoorsitter Ettienne Strydom het op 9 Julie die nuwe skoolhoof aan die skool voorgestel.

Joynt is ’n gesoute Pretorianer wat in die hoofstad gebore en getoë is.

LEES OOK: Affies groet oudskoolhoof

Hy is ’n pa van drie seuns waarvan twee ook trotse Affie-leerlinge is.

Joynt het in 1996 ’n BA-graad (Politieke Wetenskap) met Ekonomie III, Sosiologie III, Politieke Wetenskap III en Arbeidsverhoudinge III aan Universiteit van Pretoria behaal.

Hy het egter in 1996 besluit om ’n loopbaanskuif te maak en het eerder tot die onderwys toegetree as om in die veld van arbeidsverhoudinge te werk.

Joynt het sy loopbaan by Affies in 2001 afgeskop toe hy as Ekonomie-onderwyser aangestel is.

Hy het ook sy studies voortgesit in Rekeningkunde by Unisa en het in 2006 ook Rekeningkunde by die skool aangebied.

LEES OOK: Garsfontein klop Menlopark, Affies ook terug op die wenpad

In 2002 het Joynt as voog sy intrek in die koshuis geneem en is in 2011 as koshuishoof aangestel.

Hy is ook in 2010 intern deur die beheerliggaam tot adjunkhoof van die skool bevorder.

Joynt het ook in 2014 ’n honneursgraad in Sosiologie verwerf en werk tans aan sy meestersgraadverhandeling.

Vandeesweek het Joynt die eerste nuusbrief as hoof van die skool uitgereik.

“Dit is vir my ’n ongelooflike groot eer en voorreg om vanaf 1 Julie 2019 die agtste hoof van die Afrikaanse Hoër Seunskool te wees,” sê Joynt.

“Ek besef daar rus ’n reuse verantwoordelikheid op my. Dit is ’n taak wat ek met groot erns en nederigheid aanvaar.”

Hy sê hy en sy vrou, Corlia, is ontsaglik dankbaar vir die geleentheid om ’n voortgesette bydrae tot die skool en sy mense te kan lewer.

LEES OOK: SKOOL: Affies-seuns kondig hoofleiers aan

“Ek besef ek het baie groot skoene om vol te staan. Dr. Edwards, ons vorige hoof, het diep spore by Affies getrap en die koers vir die laaste 27 jaar aangewys,” sê Joynt.

“Nogmaals, ’n besondere woord van dank vir sy leiding, mentorskap en diens aan die Affie-gemeenskap. Laat daar lig wees.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button