Afrikaanse sangeres maak hart oop
Die bekroonde Afrikaanse sangeres Demi Lee Moore is pas as Solidariteit Helpende Hand se ambassadeur van dié liefdadigheidsorganisasie se #HelpHetta-projek aangewys.
Die bekroonde Afrikaanse sangeres Demi Lee Moore is pas as Solidariteit Helpende Hand se ambassadeur van dié liefdadigheidsorganisasie se #HelpHetta-projek aangewys.
Adjunk-uitvoerende hoof van kommunikasie by Helpende Hand, Rene Roux, sê Demi Lee is verlede jaar as die wenner van die werklikheidsreeks Die Kontrak gekroon en as deel van haar prys het sy by al die Afrikaans is Groot 2018-konserte opgetree.
Sy het ook altesaam vyf Ghoema-toekennings verower vir haar debuutalbum, Mis, Eet, Slaap, Herhaal, wat ná Die Kontrak vrygestel is.
LEES OOK: NUUSFLITS: Pretoria sangeres se angsnag
“Nou gebruik sy haar tyd en invloed om ’n merkwaardige verskil the maak in die lewens van meer as 3 000 hulpbehoewende hoërskool- en laerskoolmeisies wie se huishoudings dit nie kan bekostig om sanitêre ware aan te koop nie,” sê Roux.
“Dié meisies mis soms tot 55 skooldae weens die sensitiewe sakie. Demi Lee het nie net ’n goue stem nie, maar ook ’n hart van goud.”
Roux sê Moore het ook haar twee droomrokke, wat sy onderskeidelik by die Afrikaans is Groot-konserte en die Ghoema-toekennings gedra het, aan #HelpHetta geskenk.
“Een vir ’n behoeftige matriekmeisie se matriekafskeid en een om opgeveil te word om produkte vir die #HelpHetta-projek aan te koop,” sê sy.
LEES OOK: Pretoriase sangeres genooi na VSA
Sy sê Moore sien daarna uit om #HelpHetta se ambassadeur te wees en dat dié projek haar na aan die hart lê.
“Ek onthou ek was op hoërskool en was in die winkel toe kyk ek wat sanitêre ware kos,” sê Moore.
“Ek het nog daar gestaan en by myself gedink hoe bekostig ’n mens dit as party mense skaars ’n brood kan bekostig?
“As jy ’n keuse moet maak tussen kos en sanitêre ware, watse een gaan jy dan kies? Dit is vir my dus belangrik om deel te wees van dié projek want ek wil graag saam met die publiek hulpbehoewende meisies help om hul lewensgehalte te verbeter.”
Moore meen tienermeisies het genoeg om hulself oor te bekommer en menstruasie moet beslis nie een van daardie dinge wees nie.
“Meisies moet veilig by die skool voel en moet met selfvertroue kan rondstap op die skoolgronde of aan sport deelneem,” sê Moore.
LEES OOK: Charlize Berg straal in 2019
“Die rokke wat ek vir #HelpHetta geskenk het, het ek gedra tydens twee belangrike gebeurtenisse in my lewe – dit was baie groot aande vir my waarin my drome waar geword het.
“As ek dit kan skenk en ’n verskil maak, hoekom nie? Toe kom #HelpHetta oor my pad en dit was ’n perfekte kombinasie en ek hoop dit kan ander meisies se drome ook waar maak.”
Behoeftige matriekmeisies kan aanlyn aansoek doen om Moore se Ghoema-rok, kompleet met ’n mooimaaksessie, te kry vir haar groot aand, sê Roux.
“Mense wat ’n aanbod wil maak op Demi Lee se Afrikaans is Groot-rok kan ook aanlyn ’n aanbod maak.”
LEES OOK: VIDEO: Oud-Pretorianer in nuwe Afrikaanse treffer fliek
Besoek www.helphetta.co.za vir meer inligting of om ’n bydrae te maak.
Albei rokke is deur Bride&Co gemaak ter waarde van byna R7 000 elk.
Do you have more information about the story? Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
