Moot se ‘oom Jakkie’ trap kilometers vir die Voortrekkers
Jakkie van der Colff, ’n inwoner van Waverley, het as enkelfietsryer ’n toer aangepak wat hom deur vyf provinsies en vyftig dorpe oor ’n afstand van sowat 2 700 kilometer tot by die Taalmonument in die Paarl sal neem.
’n 77-jarige man van die Moot het die naweek ’n 2 700km fietsrit afgeskop ten bate van Die Voortrekkers.
Honderde Voortrekkers het Waverley-inwoner Jakkie van der Colff Saterdag afgesien op sy toer as enkelfietsryer wat hom deur vyf provinsies en 50 dorpe tot by die Taalmonument in die Paarl sal neem.
Van der Colff sê sy doel is om Die Voortrekkers as beweging wyer en beter bekend te stel.
Dis sy hartsbegeerte dat Voortrekkerkommando’s in ál die dorpe op die roete van sy fietstoer gestig sal word.
Dít terwyl hy, soos hy ry, geld insamel deur borge wat hom per kilometer borg sodat diegene wat dit nie kan bekostig om ’n Voortrekker te wees nie, tog kan aansluit, en ook sodat Die Voortrekkers meer gemeenskapsprojekte kan aanpak.
“Ek ry meeste van die pad alleen,” vertel hy.
LEES MEER: Jong Pretorianer maak sy stem dik op bergfiets roetes
“Plus-minus 25 fietsryers het egter saam met my vertrek en het saam met my gery tot by Hartbeespoort.”
Nie net trap Van der Colff ten bate van Die Voortrekkers nie, maar hy het aan Rekord vertel dat hy ook liggaamlik en geestelik gesond wil wees.
“Sonder oefening kan ’n mens vergeet om een van daardie twee te wees. Jy kan nie ’n gesonde gees en ’n ongesonde liggaam hê nie,” sê hy.
“Ek sê altyd dit maak nie saak hoe oud jy is nie, wat jou geslag is nie en of jy enige liggamgebrek het nie – as jy iets wil doen dan kan jy.”
Van der Colff sê hy het al vier vorige fietstoere in die verlede onderneem.
Dr. Danie Langner, hoofleier van Die Voortrekkers, sê hy was aanvanklik baie skepties toe “oom Jakkie” hom tien maande gelede kom sien het oor dié fietstoer wat hy beplan.
“Jy kon my met ’n veertjie omtik toe oom Jakkie duidelik en ondubbelsinnig aanmeld om manalleen vir Die Voortrekkers van die Voortrekkermonument tot die Taalmonument sy speke te laat sing – 2 650km,” sê hy.
“Langs die pad wil hy soveel as moontlik Voortrekkerkommando’s besoek en waar daar nie is nie, die Voortrekkers bemark en nuwe kommando’s stig.”
Langner sê só iets het nog nooit in die geskiedenis van Die Voortrekkers gebeur nie.
LEES MEER: Jong fietsryer spog met lys van prestasies
“Ek moet bieg. Ek was eers verstom, toe skepties, ongelowig en realisties, terwyl oom Jakkie gelowig, optimisties en met vertroue die roete myl vir myl beplan het,” sê hy.
Van der Colff se motivering is eenvoudig: “Elke mens ongeag wie jy is, het drie dinge. Sommige het net een, ander twee en sommiges selfs al drie: tyd, talent en bates. In my geval het ek tyd op hande. Om my tyd nie nutteloos te laat verbygaan nie, het ek besluit om tyd te gebruik om iets te doen vir Die Voortrekkers.”
In 2013 het hy sy eerste fietstoer aangepak.
Hy sê woorde kan nie omskryf wat hy ervaar as hy op sy fiets die langpad aandurf nie.
“Dis net die vryheid en die ooptes van die veld wat jy ervaar. Jy dink eintlik aan niks nie. Dit word net lekker en jy word sterk.”
Van der Colff sê hierdie is nie die langste rit wat hy al gedoen het nie. Sy langste was oor die 5 000km.




Do you have more information about the story? Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:
Rekord East
Rekord North
Rekord Centurion
Rekord Moot
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
