Plaaslike talent maak golwe op die verhoog
’n Talentvolle sanger van die ooste in Pretoria is besig om opslae in die musiekindustrie te maak.

’n Talentvolle sanger van die ooste in Pretoria is besig om opslae in die musiekindustrie te maak.
Met sy lang hare, sjarmante lyftaal en ontspannende lirieke is Jeandré Pistorius iemand om voor uit te kyk.
Hy beskryf sy musiek as ‘indie-acoustic’ en verduidelik dat die grootste invloede op sy musiek kunstenaars soos Ben Howard van Engeland en Matt Corby van Australië is.
“Ek probeer my musiek so uniek en eg aan myself te maak as moontlik,” sê hy.
Die 21-jarige verduidelik met trots dat hy eendag deur Afrikaanse sanger en drommer Ghapi raakgesien is en dat dié gedink het Jeandré speel baie goed kitaar.
“Dit het by ’n plek in Moreleta Park gebeur waar ek gewerk het, Brazen Music. En hy het my daarna genooi na ’n musikante braaidag waar ek talle bekende en steeds onbekende musikante leer ken het,” vertel hy.
READ MORE: VIDEO: Deon Groot musiek leer jou ‘dans, kuier, en om musiek en goeie geselskap te geniet’
“Ek sou sê dat dit basies die beginpunt van my loopbaan in die indusrie was.”
Jeandré het daardie dag saam met Ghapi op die verhoog opgetree. Kort daarna het hy by Jolly Roger in Hatfield opgetree.
Daarna het hy betrokke geraak by ’n groep met die naam Barefoot Breeze as hoof kitaarspeler. Die groep het redelike roem verwerf en van daar het baie deure vir Jeandré begin oopmaak.
“Ek kan nie sê dat ek gebore is met ’n engelstem nie, ek moes hard werk om my stem te oefen, na vier maande van stemlesse, ‘open mic’ aande en baie sing in die kar, het ek my eerste betaalde optrede gehad.
“Op die oomblik doen ek baie intensiewe vokale oefeninge saam met my meisie Nicola Mcleod wat al baie jare sing, sy is tans my mentor,” verduidelik hy verder.
Die sanger het op Saterdag, 28 September 2019 by die Sunburn & Wonder geleentheid by die Pretoria Nasionale Botaniese Tuine opgetree, waar hy vir die ikoniese Jeremy Loops geopen het.

“Sunburn & Wonder was absoluut pragtig gewees. Ek was onelooflik bly om daar op te tree en baie opgewonde om op so ’n groot verhoog met sulke ongelooflike musikante op te tree. Dit was ’n gevoel wat ek nooit sal vergeet nie. Ek hoop vir vele meer geleenthede soos dit.”
READ MORE: VIDEO: Op die musiekhorison hierdie week: Early B en Jack Parow
Een van die hoogtepunte daardie dag vir Jeandré was met ’n kitaar.
“Ek het op die dag ’n kitaar saam geneem wat my vriend vir my gegee het. Hy wou graag ’n paar handtekeninge kry en die kitaar in sy huis saam met sy meisie raam.
“Die kitaar het ’n tipe van tradisie geword by Sunburn deur die dag en ek het die handtekening van ieder en elke kunstenaar gekry wat daar opgetree het. Dit was wonderlik om te sien hoe vrywillig al die kunstenaars wou deel wees,” sê hy gelukkig.
“Ek het ongelooflike respek vir Jeremy Loops, ek hoop ek kan eendag bereik wat hy al bereik het.”
Oor sy planne vir die res van die jaar, is Jeandré baie opgewonde maar erken dat harde werk voorlê.
“Ek is tans besig om ’n paar liedjies op te neem. Ek wil hulle graag vrystel voor Januarie 2020. Verder werk ek saam met ’n paar ander musikante aan ’n Paramore-huldeblyk waar ek hoof kitaar speel. Ons beplan ook ’n Mumford and Sons-huldeblyk waar ek hoofsanger is.
READ MORE: VIDEO: Nuwe musiekvideo vir Burgerd Botha
“Verder het ek elke week Bar Acoustics, wat ’n weeklikse optrede is in Hatfield by The Grind Bar and Eatery. Ek het hierdie geleentheid self begin en reël alles self met behulp van my meisie, Nicola, en ’n goeie vennoot van my, Nathi Dlamini (aka Skinni Coco).”
Wanneer Jeandré nie besig is met sy bedrywige musiekskedule nie, studeer hy meganiese ingeneurswese.
“Ek sal baie graag nog saam ’n paar bekende stemme in die industrie wil werk, as ek nou realisties dink, sal daai lysie mense soos Matthew Mole, Johnny Apple en Werner Bekker insluit. As ek internasionaal kan dink, sal ek graag saam met Ed Sheeran, Taylor Swift, Post Malone en Justin Bieber wil werk,” sluit hy af.
Do you have more information about the story? Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:
Rekord East
Rekord North
Rekord Centurion
Rekord Moot
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
