Tjortsie spog met nuwe vere
Die eienaar van Tjortsie, Pretoria se geliefde hoender, het onlangs gedink het sy het die gevreesde Covid-19 virus.
Die eienaar van Tjortsie, Pretoria se geliefde hoender, was geskok toe sy onlangs gedink het sy het die gevreesde Covid-19 virus gevang.
“Ek was plat in die bed met ’n nasal drip en rasperstem,” vertel Natacha Jacobs.
“Maar toe besef ek ek was nie in kontak gewees met enigiemand met die virus nie en het ’n bietjie meer ontspan.”
Tydens ’n besoek aan haar dokter, het sy geleer dat sy nie die klassieke simptome vir die coronavirus het nie.
“My dokter het kortisoon en antibiotika voorgeskryf en aan my gesê dat as ek nie oor ’n paar dae beter voel nie, moet ek dalk maar getoets word vir Covid-19.”
LEES OOK: Tjortsie se nuwejaarsplanne
Gelukkig was sy “stukke beter” binne drie dae en is nou weer terug op haar voete.
Dit gaan ook goed met Tjortsie, die hoender wat verlede jaar nuusopskrifte gehaal het toe hy by die dood omgedraai het toe hy by ’n Onderstepoort-veeartshospitaal opgeneem is.
“Tjortsie spog met nuwe vere,” vertel ’n trotse Jacobs.
“Hy is so vas in sy roetine, dis snaaks om te dink dat ’n hoeder so gewoon aan ’n roetine is,” vertel sy.
“Tjortsie en sy vrou, Vrou, hou my lekker besig.”
Behalwe dat Tjortsie bederf is, is hy ’n regte kekkelbek, vertel sy.
Jacobs sê Tjortsie volg haar steeds heeldag rond en antwoord haar selfs wanneer sy met haar man praat.
“Hy praat die hele tyd met my. Ek’s seker hy verstaan my en jy moet sy dialoog hoor,” skerts Jacobs.
Sy vertel Tjortsie skree al 07:00 die oggend om uit te gaan. Dan maak sy Tjortsie se kamerventer oop dat hy kan uitspring.
“Dan gaan eet en speel hy in die sand.”
Jacobs vertel dit gaan ook goed met Tjortsie se vrou, Vrou, wat ongeveer twee tot drie eiers ’n week lê.
“Maar sy verwyder die eiers. Ek het my hande vol met die twee hoenders, ek sien nie kans vir nog kuikens nie.”
LEES OOK: Tjortsie Moot hoender-sensasie oornag
Omdat Jacobs se kinders reeds uit die huis is, het sy een van die kamers vir haar hoenderkind omskep.
Tjortsie is aanvanklik op 22 Oktober 2019 by die Onderstepoort-veearts opgeneem nadat hy raaiselagtig siek begin raak het.
Nadat hy byna twee weke in die hospitaal was, is hy op 4 November ontslaan om verder by die huis aan te sterk.
Intussen het Tjortsie bloedtoetse ondergaan om te probeer vasstel wat hom makeer maar dit was nie suksesvol nie.
Jacobs sê steeds sy het tot vandag toe nie ’n volledige verslag gekry nie, al het sy navrae gedoen. Jacobs versorg Tjortsie sedertdien en dit blyk dat dit baie beter met hom gaan.
Vir lank het Jacobs vir Tjortsie met Colida Silver gedokter, maar het intussen na net ’n multivitamiene afgeskaal.
“Hy lyk regtig goed, hy begin nou ook nuwe vere groei, hy word nou ’n grootseun.”


Do you have more information about the story? Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
