Sypaadjie-wisseltrofee kry ‘n nuwe staanplek
Die wisseltrofee spog vir die res van die maand in Deona van der Merwe (84) se voorerf.
’n 84-jarige-oue dame van Perkstraat in Capital Park is Woensdag as die Oktoberwenner van die Caprra sypaadjie-kompetisie aangewys. Dié wisseltrofee spog vir die res van die maand in Deona van der Merwe (84) se voorerf. Van der Merwe se groenvingers het Donne-li Johnson, ’n huisagent van Real One Real Estate se oog onmiddellik gevang. Die kompetisie word deur Caprra (Capital Park Residents and Ratepayers Association) en Real One Real Estate aangebied. “Enige netjiese persoon is veronderstel om sy omgewing ook netjies te hou. Dit verg nie regtig baie nie,” vertel Van der Merwe. LEES OOK: Delight over speed bumps in Capital Park “Dit is nie vir my harde werk nie, maar eerder ’n plesier.” Van der Merwe het twee jaar gelede saam met haar dogter ingetrek nadat sy jare lank ’n inwoner van Sinoville was. Haar voortuin spog met ’n reënboog van ’n verskeidenheid rose. “Ek het die steggies van die rose afgesny en sommer in een pot ingedruk. Ek het hulle in Perkstraat geplant en sedertien groei hulle nog altyd.” Sy was vir 30 jaar in die onderwys betrokke en het ’n groot liefde vir kinders. “Dit is net die lekkerste ding om verby ’n kind verby te stap, en daardie glimlag te sien. Nou is my rose my kinders en my vriende.” Caprra se Michael Burt, wat drie jaar terug met hiérdie inisiatief vorendag gekom het, sê dat dit die gemeenskap aanmoedig om hulle sypaadjies en tuin in stand te hou. “Sedert die begin het dit reeds ’n positiewe uitwerking op die gemeenskap gehad,” sê Burt. “Die gemeenskap van Capital Park neem die voortou om ’n positiewe beeld vir die gemeenskap te stel en om pro-aktief te wees. LEES OOK: Capital Park A Re Yeng project making progress “Hoewel vanjaar vele eise aan ons gestel het, doen ons ons deel om die omgewing netjies te hou,” sê hy. Hy sê ook dat so lank as wat hy in hierdie area bly, hy uit sy pad uit sal gaan om te help waar hy kan. “Ek is al meer as 10 jaar by die gemeenskap betrokke. As die gemeenskap nie inspring om betrokke te raak nie, sal Capital Park agteruitgaan.” Johnson ry die strate van Capital Park plat op soek na die huis met die netjieste sypaadjie. “Dit gaan nie net oor die mooiste sypaadjie nie, want dit is nie altyd moontlik om tuin te maak nie – dit gaan oor netheid. “As ek by ’n erf verby ry en dit is opvallend netjieser as die ander erwe, kan ek sommer sien iemand het die ekstra moeite ingesit om hulle sypaadjie in stand te hou,” sê Johnson. ’n Buite-beoordeelaar sal in Desember die algehele sypaadjie-kampioen van die jaar aankondig. “Vanjaar se prys gaan ’n goot verrassing wees,” sluit Johnson af. Do you have more information about the story? Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114. For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
