Kruk of kierie nie nodig vir 99-jarige nie
Sy gebruik geen medikasie nie, nie eers ‘n bloeddrukpilletjie nie en sy stap nog regop sonder ‘n kruk of kierie.
’n Inwoner van Koinonia tuiste vir bejaardes in Pretoria het verlede week haar 99e verjaarsdag gevier.
Jeanette van Rensburg is op 28 Januarie 1922 in Frankfort in die Vrystaat gebore waarna die gesin na Potchefstroom verhuis het.
Sy was een van die eerste inwoners in Koinonia tuiste vir bejaardes.
Van Rensburg het sowat 11 jaar gelede deel van dié familie geword.
Van Rensburg is die tweede oudste kind van ’n gesin van nege kinders waarvan net sy en net haar een broer, Hendrik Victor, nog leef.
In die Potjiesdorp het sy by ’n klooster skool gegaan waar sy baie toekennings ontvang het, lewenslange vriende gemaak en ’n goeie lewe as ’n kind gehad.
In 1949 het sy by Peri Urban in die HB Phillips-gebou in Pretoria begin werk.

Sy het hier haarself as hooftikster bewys en op die ouderdom van 61 jaar in 1983 afgetree.
Op 33-jarige ouderdom het sy met Pieter van Rensburg getrou.
Hulle het egter saam besluit om nie kinders te hê nie.
Hy is 1983 op 65-jarige ouderdom oorlede.
Jeanette het ook die hele wêreld verken en gereeld op toere gegaan.
Sy het nege lande, onder andere Midde Ooste, die hele Europa, Holland, Engeland asook Duitsland besoek.
Sy was veral lief vir toere in Suid-Afrika.
Wat is haar wenresep om nog so gesond en flink op 99 te wees?
“Eerstens my verhouding met my Skepper.
“Jy moet daagliks in kontak met Hom bly en weet Hy bestuur jou lewe.
“Dit is belangrik om vir Hom dankie te sê,” vertel sy.
Sy glo ook aan ’n gesonde eet- en leefstyl.
“Ek lees graag op oor gesondheidsprodukte en eet gereeld vrugte, groente en neute.
“Ek vermy liefs konflik en aanvaar my omstandighede – dit maak die lewe sommer baie eenvoudiger,” vertel sy.
Naomi de Haast van die tehuis, sê dat hulle ’n heildronk op haar verjaarsdag met ’n glasie sjampanje geklink het om hierdie besonderse myplaal te vier.
De Haast sê dat Jeanette ’n baie liewe mens is.
“Sy kom met almal goed oor die weg en word selde kwaad.
“Sy is regtig ’n dame van formaat.
“Sy doen nog alles vir haarself, sonder enige hulp,” sê sy.
“Dié tannie gebruik geen medikasie nie, nie eers ’n bloeddrukpilletjie nie, sy stap nog regop sonder ’n kruk of kierie en doen nog inkopies saam met die familie.
“Dit is regtig ’n plesier en voorreg om haar hier deel van ons tuiste se familie te hê,” vertel De Haast.
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
