Só lyk 2021 se eerste sypaadjie-kampioene vir die jaar
“Sjoe! Dit is ‘n baie groot voorreg om hierdie troon voor ons erf te hê."
Die eerste sypaadjie-wisseltrofee vir 2021 se wenners is verlede week aangewys.
Hermann en Mavoreen Bosman se sypaadjie het kop-en-skouers bo die res van die inwoners in Capital Park uitgestaan.
Die inisiatief van die kompetisie is deur Caprra (Capital Park Residents and Ratepayers Association) en Real One Real Estate op die been gebring.
“Sjoe! Dit is ‘n baie groot voorreg om hierdie troon voor ons erf te hê,” vertel Mavoreen.
“Ons verteenwoordig Capital Park en ons is trots daarop dat mense kennis neem van hoe die erf lyk as hulle hier verby ry.
“Ons hou daarvan om by die vensters uit te kyk en die groen gras en die pragtige blomme te sien. Dit is goed vir die siel,” vertel Mavoreen.
“Die pandemie is ’n woord wat ons uit ons sisteem moet kry.
“Ons almal kyk in die pandemie vas, maar op die einde van die dag is dit wat ons daarvan maak.
“As jy trots is op wat jy doen en hoe jy iets doen, gaan jy nie platgeslaan word deur die pandemie nie.”
Hermann sê dat hulle daarvan hou om self in te spring en hulle erf in stand te hou.
“’n Huis is ’n voorreg, ons het ’n dak oor ons koppe.
“Jou huis is waar jou hart is.
“Ons wil goed oor ons area voel en daarom wil ons graag ons sypaadjie en die res van die erf netjies te hou,” sê hy.
Die Bosmans bly om en by 20 jaar in die area.

“Dit was 20 wonderlike jare. Capital Park was nog net goed vir ons gewees.
“Dit is ’n eer en ’n voorreg om te kan sê dat ons in Capital Park bly.
“Ons wil die bure aanmoedig om hulle sypaadjies in stand te hou.
“Op die einde van die dag is dit tog lekker om nie in ’n ashoop vas te kyk nie,” vertel die twee.
Michael Burt van Caprra sê dat hulle vanjaar graag twee trofeë elke maand, vir die netjieste sypaadjie, wil oorhandig.
“Ons hoop om borge betrokke te kry om maandeliks pryse aan inwoners te oorhandig.
“Ons wil soos die kompetisie groei, meer bewustheid onder die inwoners van Capital Park skep.
“Hierdie omgewing kan ’n toonaangewende area in die die gemeenskap wees,” sê Burt.
Donne-li Johnson, ’n huisagent van Real One Real Estate vertel dat sy drie sypaadjies teenmekaar opgeweeg het, maar die Bosmans se sypaadjie het haar oog onmiddelik gevang.
“Dit verg baie energie om so ’n sypaadjie in stand te hou en op te knap.
“Hermann en Mavoreen gaan uit hulle pad uit om hulle sypaadjie netjies te hou,” sê sy.
Theo Espach en sy tuinier Given Mogohari is as 2020 se algehele wenners van hierdie kompetisie gekroon.
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
