Local newsNews

Moot-kankervegtertjie sterk nou aan na waterpokkies

Januarie vanjaar het sy waterpokkies gehad wat haar hart, longe en lewer aangetas het.

’n Graad 4-leerder van Laerskool Totiusdal in Waverley, Miné van der Merwe, sterk goed aan nadat sy in Januarie waterpokkies opgedoen het.

Dié klein vegtertjie, is in 2019 met akute Meyloïde, ’n tipe kanker in die bloed en beenmurg met ’n oormaat onvolwasse witbloedselle, gediagnoseer.

Sy was tot en met Februarie 2020 in remissie.

’n Paar maande later het die kanker weer teruggekom.

In Augustus het die dokters die familie aangeraai dat ’n beenmurg-oorplanting nodig is.

Die operasie was ’n sukses gewees.

Januarie 2021 het sy waterpokkies gehad wat haar hart, longe en lewer aangetas het.

Miné se mamma, Desiré, sê dat die dokters haar vir vyf minute moes resussiteer.

Sy was aan ’n ventilator gekoppel.

“Sedert Januarie sukkel sy om gesond te word.

“Sy kan nog nie loop nie, maar ons hoop dat sy binnekort met ’n loopraam sal regkom,” vertel Desiré.

Miné se uitstaande mediese onkostes beloop oor die R200 000.

“Ons weet nie wat ons sonder die ondersteuning van familie en vriende sou doen nie.

“Daar is soveel barmhartige samaritane daarbuite.

“In vandag se tye, is ons stomgeslaan oor hoe mense hul beursies oopgemaak het om met van Miné se onkostes uit te help,” vertel sy

Desiré sê dat Miné hopelik binnekort met huiswerk kan begin sodat sy nie agter raak met haar skoolwerk nie.

“Haar gemoedstoestand is nie waar dit moet wees nie, maar dit is verstaanbaar.

“Sy mis haar maats,” sê sy.

“Ons vat dit dag vir dag en elke dag het sy eie uitdagings wat ons in die gesig staar.

“Ons bid dat sy ten minste die naweek kan huis toe kom sodat ons haar verjaarsdag behoorlik kan vier.”

Jaarliks bied Laerskool Totuisdal ’n meriete-geleentheid aan waar leerders vir hul akademiese-, kultuur- asook sportprestasies vereer word.

Miné is vir haar deelname in die “lewenswedloop” vir haar stryd teen kanker, vereer.

Die hoof van Laerskool Totiusdal, Marthinus Carr, sê dat dit ’n voorreg is om Miné deel van die skool te hê.

“Jy is ’n vegtertjie wat nie opgee nie en ons kan so baie by jou leer.

“Jy hardloop ’n lewenswedloop en met liewe Jesus aan jou sy, raak jy by die dag sterker.

“Ons dink en bid vir jou, en ons hou jou plekkie by die skool oop sodra jy weer sterk genoeg is om terug te kom,” sê Carr.

Die skool wil graag vir Miné se 10e verjaarsdag ’n groot makietie hou.

“Elke leerder en personeellid word aangemoedig om Vrydag, 9 April iets te dra wat hulle aan Miné laat dink.

“Miné se gunstelingkleur is blou.

Klein Mine van der Merwe,;n leerder van Laerskool Totiusdal sterk goed aan nadat sy in Januarie waterpokkies gekry het. Foto: Verskaf

“Leerders mag enigiets blou saam met hul skooldrag aantrek – al is dit ’n blou strikkie in die hare of selfs blou kouse.

“Vir hierdie vergunning, wil ons vra dat enigeen wat kan, ’n donasie sal skenk en in ’n rekening wat geskep is sal oorbetaal om Miné se ouers met mediese kostes te ondersteun,” sê Carr.

Armbandjies, ‘Brave Heart’, ’n fondsinsamelingsprojek wat deur Miné se ouers op die been gebring is, kan teen R35 elk of R105 vir drie bandjies aangekoop word.

Miné se pa, Pieter, en haar ouer broer, Luan, wil graag die gemeenskap asook die skool vir hul onbaatsugtige ondersteuning bedank.

“Ons stap ’n lang pad met Laerskool Totiusdal.

“Ek kry gereeld oproepe van die skool af waar hulle boodskappe van hoop vir Miné stuur.

“Ons kry ons kind jammer. Dit is nie lekker om haar so te sien nie.

“Elke sent, al is dit R10 maak ’n groot verskil in ons dogter se lewe,” sê Desiré.

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.

For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East

For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button