Familie neem in minder as twee weke afskeid van hul oupa en pa
"Ons harte is seer en hulle heengaan voel nog so onwerklik."
’n Moot-familie het in minder as twee weke beide ’n oupa en ’n pa afgestaan aan die koronavirus.
Die familie van Piet (77) en Jaco (52) Smit is platgeslaan nadat albei die stryd teen die virus verloor het.
’n Roudiens vind Saterdag 8 Mei in die NG Kerk Magalies Moot plaas.
“Ons harte is seer en hulle heengaan voel nog so onwerklik,” sê dogter Chemoné Swart.
Oupa Piet is op 19 April in die hospitaal opgeneem en op Saterdag 1 Mei oorlede, en pa Jaco is op 14 April ook aan die virus dood.

Jaco is vier dae voor sy dood in die hospitaal opgeneem.
Die Smits het op ’n plot in Kameeldrift-Wes met beeste geboer.
“Die band tussen pa en seun was ’n kenmerkende eienskap van hulle gewees en iets wat ons altyd sal koester.
“Oupa was nog so postitief gewees dat hy binnekort ontslaan sou word en toe kom die hartverskeurende nuus dat hy oorlede is.
“Ons as familie het die nuus glad nie verwag nie.
“My oupa en pappa se wens was om egter saam veras te word. Hulle hart en siel was in die boerdery gewees en daarom was hulle wens om die as op die plaas te hou.
“Ons sal hulle as op die plaas strooi.
Swart sê dat haar oupa vir die eerste keer op die ouderdom van 77 jaar in die hospitaal opgeneem is.
“Hy het nooit met enige kwale gesukkel nie en toe eweskielik moes hy opgeneem word.”
Jaco laat sy vier kinders, ML, Chemoné Swart, Rochelle en PG agter.

Oupa Piet laat sy vrou, Ria, sy dogter Marthie Smit Bornman en sy seun Willie agter.
Hulle was 53 jaar getroud gewees en sou op 2 September hul 54e huweliksherdenking gevier het.
“My ouma se hart is seer, maar ons weet ook dat hulle albei na hul ewige huis toe is.
“Oupa en pappa sal vir altyd in ons gedagtes bly en ons sal hulle menswees mis.
“Ons besef dat hulle op ’n beter plek is, maar dit maak nie die seer en die trane wat ons stort beter nie.
“Saterdag sal ons afskeid van twee legendariese mans wat so groot rol in ons as kinders se lewens gespeel het, neem.
“Rus in vrede,” sê Swart.
*Neem kennis dat die berig aangepas is.
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
