High SchoolKidsLocal newsNews

Waterkloof kunsgalery se langverwagte droom uiteindelik waar

“Dit is ter viering van kinders se harde werk, asook van kindwees. Wanneer ons kyk na die uitslae van leerders, verdien hulle hierdie platform."

Hoërskool Waterkloof het onlangs hul kunsgalery amptelik geopen om veral erkenning te gee aan leerders vir hul harde werk in Ontwerp en Visuele Kuns.

Skoolhoof Chris Denysschen het die opening waargeneem en sê die “skool se departement van Kuns en Ontwerp het lank gedroom oor ’n plek waar ons die werk van ons pragtige kinders kan ten toon stel”.

“Dit is ter viering van die kinders se harde werk, asook van kindwees. Wanneer ons kyk na die uitslae van leerders in hierdie twee vakke, verdien hulle hierdie platform.

“Die leerders se kunswerke sal ook te koop aangebied word en leerders aanmoedig om selfs verder te vorder. Dit is veral te danke aan twee dames se ongelooflike werk in die departement, en veral die dryfveer agter die galery, Anne-Marie Grobler.”

Grobler, ook departementshoof van Kunste en Drama, gee Ontwerp by die skool as professionele kunstenaar. Sy skerts dat sy gesien het iets moet gebeur toe sy by die skool begin het in 2003.

Dit hét inderdaad ook gebeur en Grobler is laas jaar vir die vierde agtereenvolgende jaar bekroon met ’n toekenning deur die onderwysdepartement.

Hoof van Hoerskool Waterkloof, Chris Denysschen.

As die toppresterende onderwyser in Ontwerp in Gauteng, was haar groep matrikulante se gemiddeld telkens die hoogste in die provinsie. In 2020 was die vakgemiddeld 88% met 17 onderskeidings uit ’n totaal van 21 leerders.

Die internasionaal-gerekende en bekroonde kunstenaar sê kuns en ontwerp is nie net prentjies teken nie. Dit verg intelligensie en deursettingsvermoë. Dis ’n talent.

Departementshoof van Kunste en Drama van die skool, Anne-Marie Grobler.

“Moenie terugstaan vir jou plek in die samelewing nie, daar is vir jou as kunstenaar net soveel plek in die lewe as vir ’n wetenskapprofessor.”

Grobler sê verder mens kan enigiets bereik as jy in jouself glo. En voeg by dat sy nooit vir ’n kind sal sê iets is mooi as dit nie so is nie.

“Wanneer ek vir kinders sê hulle werk is mooi, bedoel ek dit uit my hart.”

Sy bedank die hoof, bestuur en beheerraad uit haar hart vir die geleentheid asook haar kollega in die departement, Bonnie Joyce, sonder wie sy dit nie sou kon doen nie.

Op haar beurt het Joyce vir Grobler gelukgewens met haar nalatenskap.

LEES MEER: Matrieks plant boom vir Wilgies-tradisie

“Min mense laat so iets na. Dit is blywend. Ons is trots op jou, Anne-Marie.”

Joyce sê nie almal se belangstelling lê in die kunste nie, maar dat sy kreatiwiteit as ’n seën beskou.

Bonnie Joyce, onderwyser visuele kunste by Hoërskool Waterkloof.

“Om konsepsueel te kan skep is ’n gawe van God. Alles is deur God geskep, ek beskou dit as ’n mens se hoogste vorm van denke.”

Die lintknipseremonie is waargeneem deur Denysschen waartydens Grobler ’n groot geskenk aan hom oorhandig het, naamlik ’n portret van hom, deur Grobler sélf gedoen.

“Nog ’n Waterkloofdroom is bewaarheid is,” het Denysschen die seremonie afgesluit.

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.

For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East

For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button