News

Kinderhuis se krag afgesny ondanks gereelde betaling

Die Paul Kruger-kinderhuis is sonder elektrisiteit gelaat ondanks betalings wat gereeld gemaak is en sonder enige voorafkennisgewing deur die metro.

Die Paul Kruger-kinderhuis in die Moot was op 21 Oktober vir ’n paar uur sonder elektrisiteit nadat lede van die metropolisie by die perseel opgedaag en ’n kontrakteur die hoofstroombreker ontkoppel het.

Die krag is na 15:00 op 21 Oktober afgesny. Na ’n onmiddellike aansoek van die kinderhuis se prokureur, waarin al die onwettighede rondom die voorval uitgespel is, is die krag weer op 22 Oktober om 09:00 weer aangeskakel.

Volgens Kobus Vorster, bestuurder van die kinderhuis, het die instelling geen voorafkennisgewing van die ontkoppeling ontvang nie. ’n Dokument daarrondom is eers aan die kinderhuisbestuur oorhandig toe die metro-amptenare van die elektrisiteitsafdeling opgedaag het.

“Ons verkry op die oomblik inligting van die metro soos wie die opdrag gegee het, om met ’n litigasieproses voor te gaan,” het hy aan Rekord bevestig.

Vorster sê die voorval het voortgespruit uit ’n langdurige administratiewe misverstand oor die werking van ’n elektrisiteitsmeter.

Metropolisielede en ander amptenare sowel as ‘n kontrakteur daag op 21 Oktober by die Paul Kruger-kinderhuis in die Moot op om die elektrisiteit te ontkoppel, ondanks die bestuur se pogings om die misverstand uit te klaar. Foto: Verskaf

Volgens hom was die kinderhuis nie agterstallig met sy maandelikse betalings nie.

“Die kort en die lank daarvan is dat dit ’n misverstand was,” sê Vorster. “Ons betaal elke maand wanneer hulle vir ons die rekening stuur. Ons betaal ons water en ligte. Ek wil bevestig ons was nog nooit agterstallig nie en betaal soos klokslag wanneer ons ’n faktuur ontvang. ’n Faktuurbetaling is nodig omdat ons ’n nie-winsgewende organisasie is en bewyse rondom betalings moet kan hou.”

Volgens Vorster het die kinderhuis reeds begin om die administratiewe probleem op te los voordat die metropolisielede opgedaag het om die elektrisiteit te ontkoppel.

Hy sê hy wou die situasie aan die amptenare verduidelik en die betrokke sluitkas self oopsluit, maar voeg by dat hulle nie bereid was om na sy verduideliking te luister nie.

Volgens hom is die kragkas se slot oopgeforseer voordat die kragkoppelaar ontkoppel is. “En dit nadat ek vir hulle gewys het ek het die sleutel en sal vir hulle oopsluit, en hulle versoek het om nie die ontkoppeling te doen nie want die misvestand is uit die weggeruim.”

Volgens kinderhuisbestuur is daar aangebied om die kragkas met ‘n sleutel oop te sluit, maar die slot is volgens hom oopgeforseer voordat die hoofstroombreker ontkoppel is. Foto: Verskaf

Vorster sê die voorval het vrae by die kinders ontlok aangesien van hulle reeds van die skool teruggekeer het. Personeel het die situasie aan hulle verduidelik en hulle gerusgestel.

“Ons het alles mooi uiteengesit vir die kinders. Ek moet sê hulle was rustig na die verduideliking. Ons kon die trauma hokslaan.”

Die voorval het politieke reaksie ontlok. Peter Meijer, VF Plus-koukusleier in die metro, het die optrede van die stad en die metropolisielede by die kinderhuis gekritiseer.

Hy het die voorval veroordeel en gesê die optrede wek kommer oor die veiligheid en waardigheid van kwesbare kinders.

“Op 21 Oktober om ongeveer 15:00 het die metropolisie op ’n kwaadwillige wyse opgetree deur die kinderhuis van elektrisiteit te ontneem, ondanks die feit dat die betwiste bedrae wat geëis is, alreeds deur die kinderhuis betaal is. Die party eis ’n onafhanklike ondersoek na die ontkoppeling,” versoek Meijer.

Volgens die party moet verantwoordelike amptenare aanspreeklik gehou word indien die bewerings deur die ondersoek bevestig word.

“Dit is ondenkbaar dat ’n instelling wat verantwoordelik is vir die versorging van kwesbare kinders op so ’n wyse behandel word,” wys Meijer uit.

Die slot van die kragkas is met gereedskap oopgeforseer om toegang tot die elektriese toerusting te verkry. Foto: Verskaf

Metrowoordvoerder Lindela Mashigo sê die stad se invorderingsveldtog is daarop gemik om uitstaande munisipale inkomste in te vorder sodat die stad sy verpligtinge teenoor grootmaatverskaffers, waaronder Eskom en Rand Water, kan nakom.

Volgens Mashigo word die invorderingsproses deur die munisipale finansiële afdeling gelei. Dié afdeling kan waar nodig ondersteuning van ander departemente, waaronder die metropolisie, aanvra.

Hy beklemtoon egter dat invordering wettig moet geskied en dat die veiligheid en waardigheid van almal wat daardeur geraak word, in ag geneem moet word.

“Die bewerings oor die metropolisie se optrede by die Paul Kruger-kinderhuis, is ernstig en moet geverifieer word,” sê Mashigo. Hy het onderneem om ’n meer breedvoerige antwoord na ’n ondersoek deur te gee.

Die hoofstroombreker is ontkoppel nadat die kragkas oopgemaak is, wat die Paul Kruger-kinderhuis vir ’n paar uur sonder elektrisiteit gelaat het. Die voorval het politieke reaksie en oproepe om ’n ondersoek ontlok. Foto: Verskaf

Hy verduidelik voorts dat die metropolisie se ondersteuningsrol onderskei moet word van die tegniese werk wat deur elektrisiteitsamptenare verrig word.

Volgens hom moet elektrisiteitsontkoppelings en die hantering van elektriese toerusting deur behoorlik gemagtigde personeel uitgevoer word.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button