MunicipalNews

Moot-busprobleme maak pendelaars onseker

Busse wat voor die tyd vertrek, roetes wat nie bedien word nie en personeelprobleme wek kommer onder pendelaars in die Moot. Inwoners eis nou antwoorde oor die herhalende ontwrigtings en die impak daarvan op hul daaglikse vervoer.

Buspendelaars in die Moot sit met toenemende onsekerheid oor die betroubaarheid van die metro se busdienste, met klagtes oor busse wat voor skedule vertrek, roetes wat nie bedien word nie en personeelprobleme.

Proporsionele raadslid Mari Joubert sê inwoners verdien antwoorde oor die herhalende ontwrigtings wat hul daaglikse vervoer bemoeilik.

Sy voeg by dit is klagtes wat inwoners se daaglikse vervoer raak, veral dié wat op busdienste staatmaak om by die werk, skole, afsprake en ander verpligtinge uit te kom.

“Vir pendelaars wat hul reise rondom gepubliseerde roosters beplan, kan onvoorspelbare vertrektye en onderbroke dienste tot lang wagtye en bykomende vervoerkoste lei,” voer Joubert aan.

“Ek ontvang hartseer klagtes van inwoners in die Moot wat bekommerd is oor die betroubaarheid van die busdienste. Mense maak staat op hierdie diens om betyds by hul bestemmings uit te kom. Wanneer busse nie volgens die aangekondigde rooster vertrek nie, word pendelaars se dag ontwrig en moet hulle noodgedwonge ander planne maak,” sê Joubert.

Sy voer aan dat die vertrektye wat aan inwoners gekommunikeer word, ook nagekom moet word.

“Pendelaars behoort nie by ’n terminus aan te kom en te ontdek dat hul bus reeds vertrek het voordat die aangekondigde tyd aangebreek het nie. Daar moet behoorlike toesig wees om te verseker dat roosters gevolg word.”

Nog ’n kwessie wat onder haar aandag gebring is, is roetes wat glo nie bedien word ná die skofrotasie wat in September ingestel is nie.

Volgens die klagtes bestaan daar kommer dat sekere werknemers nie hul aangewysde skofte wil werk nie, wat moontlik tot onderbrekings in dienslewering bydra.

Joubert sê interne personeelreëlings behoort nie daartoe te lei dat inwoners sonder die vervoerdienste gelaat word waarop hulle staatmaak nie.

“Die bestuur van skofte en personeel is ’n operasionele verantwoordelikheid. Indien ’n skofrotasie ingestel word, moet daar planne wees om te verseker dat die toegewese roetes steeds bedien word. Inwoners behoort nie die gevolge van probleme met interne reëlings te dra nie,” sê sy.

Volgens Joubert moet die bestuur vasstel wat hierdie probleme veroorsaak en verseker dat daar duidelike verantwoordelikheid vir die uitvoering van pligte bestaan.

“Behoorlike beplanning is noodsaaklik wanneer ’n openbare vervoerstelsel bedryf word. Waar laat aanmelding of personeeltekorte die diens ontwrig, moet die oorsake ondersoek word en toepaslike regstellende stappe gedoen word,” sê sy.

Die klagtes sluit ook die tydige plasing van versperrings op Steve Biko-weg in, waar ’n teenoorgestelde verkeersrigting vir busse gebruik word. Die span wat verantwoordelik is vir die plasing van dié versperrings, kom volgens die klagte nie altyd betyds daarmee klaar nie.

Die versperrings is belangrik om die busbaan van ander verkeersbane te skei en die ordelike gebruik daarvan te ondersteun. Vertragings met die plasing daarvan kan die beoogde verkeersreëling bemoeilik en die busbedrywighede beïnvloed.

Die probleme wat in die klagtes beskryf word, sluit aan by breër kommer oor die bedryf van die metro se busdienste.

DA-woordvoerder oor paaie en vervoer in Tshwane, Dikeledi Selowa, en raadslid voor 4 November-verkiesing, het ook verskeie uitdagings met die busdiens uitgelig.

Selowa het verwys na veiligheidsprobleme by busdepots, ’n verouderende busvloot en voertuie wat weens skade en diefstal nie beskikbaar is nie.

Volgens haar was daar 30 busse in ’n werkswinkel, waarvan tien gevandaliseer is.

Sy het ook die inbraak by die Princess Park-depot genoem, waar kabels beskadig is en toerusting, waaronder lugversorgingseenhede, verwyder is. Sulke voorvalle kan die werksomstandighede by depots en die beskikbaarheid van busse beïnvloed.

“Wanneer busse weens vandalisme, meganiese probleme of ander operasionele uitdagings nie beskikbaar is nie, kan dit die vermoë van die diens om aan pendelaars se behoeftes te voldoen, beperk. Dit is belangrik dat hierdie probleme behoorlik ondersoek en hanteer word,” sê Selowa.

Sy het verder kommer uitgespreek oor die gebrek aan voldoende kommunikasie met pendelaars wanneer dienste ontwrig word. Inwoners moet volgens haar betyds ingelig word wanneer busse vertraag word of roetes nie soos gewoonlik bedien kan word nie, sodat hulle alternatiewe reëlings kan tref.

Beide het ’n beroep op die metro se busdienstebestuur gedoen om die klagtes te ondersoek, vas te stel waarom die probleme voortduur en ’n konkrete plan uiteen te sit om die diens te verbeter. Dit sluit in dat gepubliseerde vertrektye nagekom word, dat roetes behoorlik beman word, dat personeel betyds aanmeld en dat die versperrings op Steve Biko-weg volgens ’n betroubare skedule geplaas word.

Vrae is aan die metro oor die busdienste gerig maar is nog nie tydens publikasie ontvang nie.

– Mari Joubert en Dikeledi Silowa was voor die verkiesing van 4 November raadslede. Teen publikasie was die verkiesingsuitslae nog nie bekend nie.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button