Die Moot vier kolwyntjie-dag saam met AfriForum
"Elke persoon wie my gekontak het en gevra het waar en hoe hulle kan help, is van die redes waarom ons steeds in hoop en liefde kan lewe."
September is kinders met kanker-bewustheidsmaand en die afgelope naweek, was waarskynlik die soetste dag van die jaar.
Dit was nasionale kolwyntjiedag ten bate van kinders wat teen kanker veg.
’n Totaal van 38 winkelsentrums regoor die land het verskillende kolwyntjie-uitstallings met die mooiste, lekkerste en mees kleurvolle kolwyntjies vir ’n donasie van R10, gehou.
Die AfriForum Groter Moot-tak en buurtwag het ingespring, hande gevat waar hulle kolwyntjies by Menlyn- en Kolonnade-winkelsentrums uitgedeel het.
Bedryfsbestuurder van AfriForum Groter Moot, asook vrywilliger by Cupcakes 4 Kids with Cancer, Cecily van der Berg, wat die AfriForum Groter Moot-spanpoging gekoördineer het, het ’n pleidooi aan die gemeenskap uitgestuur.
Daar was ’n versoek vir kolwyntjies, vrywilligers en kopers van hierdie soetigheid, waarvan sommige soos kunswerke gelyk het.
“Soos dit met die Moot is, het ’n paar mense hul harte oopgemaak en uitgereik om my te help en so het ons span gegroei. Ek is baie dankbaar en waardeer elkeen se bydrae vir Saterdag se suksesvolle veldtog,” sê Van der Berg.
Uit ’n span van 11 skenkers, het die Moot 500 kolwyntjies gebak.
“Eerstens is ek dankbaar vir God, want deur Hom gebeur alle wonderwerke, alle eer en dankie aan ons Vader.
“Elke persoon wie my gekontak het en gevra het waar en hoe hulle kan help, is van die redes waarom ons steeds in hoop en liefde kan lewe, in sulke donker en moeilike tye.
“Mense het self nie veel nie, maar hulle wil steeds ander help. Hulle is ware gemeenskapshelde vir hierdie kleintjies en hul gesinne. Julle is sowaar kolwyntjie engele,” sê sy.
Vrywilligers was die geleentheid aangegryp het, is self ouers van jong kinders.
LEES MEER: Ramaphosa pins ANC’s loss over Tshwane due to the party’s ‘shortcomings’
Jana Pieters, AfriForum Groter Moot se gemeenskapsake-koördineerder sê dat dit spesiaal is dat soveel mense hulle hart vir kinders oopmaak.
“Om self ’n ouer te wees en net te dink dat daar ander ouers is wat moet sien hoe hulle kinders siek is, is hartverskeurend,” sê sy.
AfriForum Groter Moot se jeug-koördineerder, Stuart Brooks sê dat kanker ’n saak is wat hom na aan die hart lê.
“Ek en my vrou se families het al kanker gehad, en daarom is dit ’n voorreg om aan hierdie dag te kon deelneem.”
FarmivoreZA Deli in Ben Swart-straat se ondersteunings-dienste, Riaan Coetzee, noem dat hy ’n sagte plekkie vir iemand wat die stryd teen kanker veg, het.
“Hierdie was ’n gulde geleentheid om terug te gee.”
’n Buurtwaglid, Margaret Jordaan sê dit was wonderlik om deel van die dag te kon wees.
“Ek het deelgeneem om ’n verskil in ’n kind se lewe te maak.”
“Kolwyntjiedag 2021 mag dalk iets van die verlede wees, maar daar is baie kinders wat steeds met hierdie stryd teen kanker lewe. Vir hulle is dit nie een dag nie, dit is ’n jare lange stryd.
“As gemeenskapslid wil ek vra, wees ’n lig vir iemand anders. Daar is soveel mense wie verlore en alleen is. Om te kan omgee, kos nie baie nie. Raak betrokke en skenk tyd as geld nie ’n opsie is nie. Wys jy gee om en verwag niks terug nie. Verandering begin en eindig by ons,” sê Van den Berg.
Sy het ook al die besighede, vrywilligers en ander vir hul onbaatsugtige bydraes en ondersteuning bedank.
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
