Local newsNews

VLU skenk gehekelde wurms vir kinders

Die Willie Wikkel Wurms is onlangs aan die Pretoria-Noord krisissentrum oorhandig ten bate van kinders en trauma slagoffers.

’n Gehekelde wurm om aan vas te hou wanneer stres te veel raak en die lewe te taai, was die idee agter die maak van dié spesiale sagte speelgoed deur lede van die Vroue-Landbou Unie (VLU).

Op 10 September het Hester Botha, voorsitter van VLU Pretoria-Noord – vergesel deur taklid Francine Bekker – 80 gehekelde “Willie Wikkel Wurms” by die Pretoria-Noord krisissentrum afgelewer.

Die Willie Wikkel Wurms. Foto: Verskaf

Die krisissentrum doen hoofsaaklik berading en gemeenskaps-opheffing saam met die Pretoria-Noord polisie se misdaadsvoorkoming-eenheid.

Krisissentrumbestuurder Carina Bam en polisielid adjudant-offisier Adrie Horn het die wurms ontvang wat dan geskenk gaan word aan kinders en slagoffers van trauma.

Botha sê VLU Overvaal-lede het met dié inisiatief vorendag gekom.

“VLU Overvaal se dagbestuur het gevra dat lede vrywillig deelneem aan ’n hekel-projek om in die tyd waarin ons lewe met Covid-19, die fokus van lede, asook klein mensies in ons samelewing wie baie stres ervaar, bietjie te verplaas,” verduidelik sy.

“Mens besef nie altyd watse impak stres op volwassenes, sowel as ons klein mensies het nie. Die idee is om uit te reik na laerskole, kleuterskole, en oral waar kindertjies betrokke is, en die gehekelde Willie Wikkel Wurms by hierdie instansies af te gee.”

Links: Voorsitter van VLU Pretoria-Noord Hester Botha, Francine Bekker en adjudant-offisier Adrie Horn met Willie Wikkel Wurms wat aan die Noord Krisussentrum oorhandig is. Foto: Verskaf
Saam met elke “Willie” is daar ’n kaartjie met die bewoording:

“Hello, ek is Willie Wikkel Wurm

Mag ek asb jou maatjie wees?

Bêre my in jou tas en hou my styf vas

As jou hartjie bang of seer is

Jy sal sien dat sommer gou-gou

Sal alles weer beter wees.”

Enigiemand wat belangstel om betrokke te raak by VLU Pretoria-Noord kan die tak skakel by: 082 324 9730.

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.

For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East

For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button