Local newsNews

98-jarige se hande staan vir niks verkeerd nie

'n Merkwaardige kenmerk van haar, is dat sy reeds die afgelope 10 jaar handpoppies vir die "Waardevol vir Jesus-veldtog" brei.

’n Inwoner van Ons Tuis-aftreeoord, Sophié Dorothee Mansvelt Gass, het onlangs haar 98e verjaarsdag gevier.

’n Merkwaardige kenmerk van haar, is dat sy reeds die afgelope 10 jaar handpoppies vir die “Waardevol vir Jesus-veldtog” brei. Sy het al meer as 2 000 poppies voltooi.

Hierdie poppies word gebruik om bewustheid te skep waar kinders seksueel misbruik en onskuldig in die web van prostitusie vasgevang word.

Sy doen dit as ’n liefdesdiens sonder enige vergoeding.

In 2019 het sy ’n “Waardevol vir Jesus” toekenning vir haar betrokkenheid by die veldtog, tydens ’n funksie by die aftreeoord, ontvang om haar erkenning vir haar waardevolle bydrae tot die veldtog.

Gass is op 16 Oktober 1923 in Sumatra in Indonesië gebore.

LESS MEER: https://www.citizen.co.za/rekord/392364/school-horskool-waterkloof-se-kultuur-gaan-van-krag-tot-krag/

Haar pa, ’n Nederlandse burger, het daar landbou-opleiding gegee.

Kort daarna het die Mansvelts na Suid-Afrika emigreer waar sy op ’n plaas in die Ohrigstad-distrik grootgeword het.

Sy het saam met haar man Friedel Gass ’n pluimvee-boerdery op ’n kleinhoewe in die Kameeldrif-omgewing, begin.

Lang ure van harde werk, wat gewoonlik ’n werksweek van sewe dae beteken het, het tot ’n suksesvolle onderneming gelei.

Uit die huwelik het hulle vier dogters gehad. Tans het sy nege kleinkinders en nege agterkleinkinders.

Gass is sedert September 2011 ’n inwoner van Ons Tuis.

Hier hou sy haarself hoofsaaklik besig met brei- en hekelwerk wat ’n verskeidenheid van artikels insluit.

Sy het, onder andere, vele kniekomberse gehekel wat nou die trotse eiendom van baie familielede en vriende is. Haar liefde vir goeie musiek word die afgelope tyd deur swak gehoor gekortwiek, maar sy is nog ’n kranige leser.

Dogter, Marie Volsckenk sê dat haar kinders haar as ’n reguit persoon met ’n ruim hart en iemand wie se hande altyd besig bly, sien.

“Dit is van die eienskappe wat sy sekerlik as resep eien vir die feit dat sy 98 jaar oud geword het.

“Sy geniet nog ’n redelike mate van goeie gesondheid, maar doofheid en verswakte bene eis maar sy tol.

“Familie en vriende het haar behoorlik op haar verjaarsdag bederf – ’n byeenkoms wat sy sigbaar terdeë geniet het,” noem Volsckenk.

Dit is interessant om te noem dat Gass se oupa, Prof. N.J. Mansvelt, sedert 1874 ’n betekenisvolle bydrae tot die onderwys in Suid-Afrika gemaak het en dat hy gedurende die jare 1891 tot 1899 superintendent van Onderwys in die destydse Transvaal was.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button