FAK vereer Jannie du Toit vir sy bydrae tot Afrikaanse musiek
Tydens die geleentheid is 'n granietbord met sy liedjie, "Skilder van die wolke" ook in die Liedjietuin onthul.
Sanger en liedjieskrywer, Jannie du Toit, het Dinsdag die FAK prestige-toekenning vir sy unieke en meesterlike bydrae tot die bevordering van kleinkuns in Afrikaanse musiek tussen 1971-2021 ontvang.
Dié toekenning is aan Du Toit, wat vanjaar 50 jaar in die musiekbedryf is, tydens ’n geselligheid, in die FAK se Afrikaanse Liedjietuin by die Voortrekkermonument in Pretoria oorhandig.
Tydens die geleentheid is ’n granietbord met sy liedjie, “Skilder van die wolke” ook in die Liedjietuin onthul.

Die besturende direkteur van die FAK, dr. Danie Langner, het tydens die oorhandiging gesê dat die Liedjietuin danksy Du Toit tot stand gekom het.
“Watter woorde gebruik jy vir ’n musiekreis wat oor ’n halfeeu strek en steeds onderweg is?”
Langner het twee datums – 1979 en 2012 – in hierdie musiekreis van Du Toit uitgesonder.
Die FAK-sangbundel en die musiek en liriekbeweging, waarvan Du Toit deel was, het onder meer in 1979 ontstaan.
Tydens die samestelling van die FAK-sangbundel volume II in 2012, is verskeie Afrikaanse kunstenaars oorlede soos Christa Steyn (wat aanvanklik verantwoordelik was vir die kleinkuns-rubriek), Lucas Maree en Louis van Rensburg.

Du Toit was betrokke by die samestelling van die sangbundel.
Die gedagte is toe juis deur hom gekweek dat daar nêrens ’n plek is waar Afrikaanse kunstenaars onthou word vir die reusebydrae wat hulle lewer ten opsigte van die uitbou en ontwikkeling van Afrikaans nie.
“Hierdie Afrikaanse Liedjietuin is 100% te danke aan Jannie,” sê Langer.
“Ons het toe besluit om ’n lewende monument vir Afrikaans te skep met tydlose Afrikaanse liedjies, maar ook met naamrose van Afrikaanse kunstenaars.”
LEES MEER: Naka Bulle se Carltonbeker sukses ook hoofafrigter se triomf
Gedenkplate is sedertdien opgerig vir Afrikaanse sangers wat ’n reuserol gespeel het en 200 rose wat vernoem is na Afrikaanse kunstenaars, sangers, dorpe en liedjies is aangeplant.
“Skilder van jou wolke”, wat hy as sy credo beskou, het hy 40 jaar later na een van sy gunstelingtreffers in 2018 geskryf.
Du Toit sê dat hierdie toekenning ’n eer en ’n voorreg is.
“Ek is baie dankbaar vir die toekenning. Dit laat my voel dat dit elke dingetjie wat ek oor die afgelope 50 jaar gedoen het, die moeite werd maak.
“Ek is vuriglik lief vir albei taal en musiek, dus was dit in elk geval deurgaans net ’n groot vreugde en plesier, en beskou ek elke oomblik daarvan as ’n seëning van Bo.”
Du Toit voer groot planne in die mou om sy 50 jaar in die bedryf te vier.
“Ek vier vanjaar ’n halfeeu met musiek en ek wil graag die beste van wat ek oor die afgelope vyf dekades in Afrikaans geskryf het, aan jong kunstenaars beskikbaar stel.
“Die konsep is om in samewerking met die ATKV en Vonk Musiek ’n aantal van my liedjies wat oor die afgelope 50 jaar opgeneem is op MP3 beskikbaar te stel, met die uitnodiging aan kunstenaars van 35 jaar of jonger om deel te neem aan ’n kompetisie deur ’n nuwe weergawe/verwerking van een of meer van die liedjies op te neem.
“Enigiemand, van ’n a capella-groep tot ’n rock-orkes, sal welkom wees om deel te neem en die prys aan die algehele wenner is R50 000.
“Die 12 beste liedjies word dan ook op ’n CD opgeneem.
“Om dít te vermag hoop ek om ‘’n Nuwe Baadjie’ op 13 Desember te loods, die dag waarop ek twee keer die ouderdom van die ouderdomsperk van 35 jaar bereik,” sê hy.
Video: https://www.youtube.com/watch?v=bGr1u6jHHrI
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
