Oom Paul se kleindogter se graf in ere herstel
n Direkte nasaat, ook Herman Dirk van Broekhuizen, wie se oupagrootjie se pa die broer van Van Broekhuizen senior was, het die geleentheid bygewoon.
Danksy die FAK-Noord van die Berg-Kultuurnetwerk, is ’n kleindogter van die voormalige president Paul Kruger se graf in ere herstel.
Lede van dié kultuurnetwerk, het vroeër vanjaar hulde gebring aan Fanie Eloff, kleinseun van Kruger en meesterlike beeldhouer wat onder meer die bronsbeeld van genl. Koos de la Rey op sy graf in Lichtenburg gemaak het, deur sy graf skoon te maak by die Rebeccastraat-begraafplaas in Pretoria-Wes.
Hulle het toe op ’n grafsteen in stukke agter dié van Eloff s’n afgekom.

Die span het onlangs Eloff se graf gaan skoonmaak en so het hulle besluit om te kyk of hulle hierdie grafsteen kan herstel.
Weens die gewig van die swaar graniet grafsteenstukke kon hulle dit nie self optel nie en moes hulle swaargewig inspan.
Met die omdraai van die grafsteen, het hulle agtergekom dat Eloff se suster, Elsie Fransie van Broekhuizen (gebore Eloff) en haar man, Herman Dirk, saam daar begrawe is.
Op Elsie se grafsteen staan: “Moeder van die Moedersbond”.
Haar man was een van die vroegste spelers in die SA nasionale rugbyspan (1896; die naam Springbokke is eers vanaf 1906 gebruik) en predikant in die Nederduitse Gereformeerde en Hervormde Kerk. Hy was ook ’n volksraadslid en adviseur van die Afrikaanse Bybelvertaling in 1933.

Herman was ook ’n Afrikaanse taalstryder wat hom onvermoeid beywer het vir ’n Afrikaanse universiteit in Pretoria. Sy is in 1945 oorlede en hy in 1953.
Een van die lede, Quentin Meyer, het besef dat hierdie twee belangrike figure in ons erfenis se graf herstel moet word.
AfriForum het die herstelwerk en heroprigting geborg en die herstelde graf is Vrydag, 19 November onthul.
’n Direkte nasaat, ook Herman Dirk van Broekhuizen, wie se oupagrootjie se pa die broer van Van Broekhuizen senior was, het die geleentheid bygewoon.
Langs die Van Broekhuizen gesamentlike graf, is nog ’n kleindogter van pres. Kruger, Stephanetta “Nettie” Johanna Paulina Bredell (gebore Eloff), begrawe.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
