FAK maak Pretorius-standbeelde op Andries Pretorius se verjaarsdag skoon
"Helde soos Quentin (Meyer) neem dit op sy eie skouers om 'n verskil in gemeenskap te maak."
Lede van die FAK-Moot-Kultuurnetwerk, Magalies Moot Volkspele-laer, vrywilligers en selfs nasate van Pretoria se volksleiers, naamlik Andries Pretorius en sy seun, Marthinus Wessel, het oor die afgelope naweek albei Pretorius se standbeelde voor die Pretoriase-stadsaal skoongemaak ter viering sy verjaarsdag.
Pretorius is die vader van Pretoria en die hoofstad is ook na hom vernoem.
Sy seun, Wessel, was die eerste president van die ZAR.

Hierdie span het terselfdertyd ook hoofman Tshwane se standbeeld, wat agter die Pretorius-standbeelde staan, ook skoongeskrop.
Andries Pretorius is op 27 November 1798 in Graaff-Reinet gebore.
Die dorp is vernoem na die kommandant generaal van die ZAR en aanvoerder van die Voortrekkers by die Slag van Bloedrivier.
Hy is op 23 Julie 1853 op Grootplaas, naby Pretoria, oorlede.

Die beeldhouer, Coert Steynberg het albei standbeelde, Andries Pretorius op ’n perd en dié van MW Pretorius ’n hele ent voor hom met ’n watervywer tussen hulle, gemaak.
Op die ruiterbeeld se voetstuk staan slegs die volgende: Andries Wilhelmus Jacobus Pretorius 1798-1853.
Die beeldegroep is op 21 Oktober 1955 ter viering van Pretoria se eeufeesviering onthul.

Barry Müller, projekorganiseerder van FAK-Kultuurnetwerke in Gauteng, het tydens die skoonmaakaksie ’n ere-toekenning aan Quentin Meyer, getroue FAK-Kultuurnetwerklid en trotse ondersteuner van Afrikanerkultuur en -geskiedenis, oorhandig.
“Jy maak ‘n groot verskil in die samelewing,” het Müller aan hom gesê.
Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, sê dat elke geslag het unieke uitdagings, maar in eie tyd en konteks tree daar ook unieke helde in.
“Helde soos Quentin (Meyer) neem dit op sy eie skouers om ’n verskil in die gemeenskap te maak.”
LEES MEER: Oom Paul se kleindogter se graf in ere herstel
Langner verduidelik dat dit ’n voorreg en lekker is om vir Meyer met die FAK-toekenning dankie te sê omdat hy reeds vir jare op eie tyd en kostes Afrikaner-erfenis in Pretoria versorg.
“Soms saam met ander vrywilligers, soms alleen. Hy ontdek vergete grafte van groot helde en maak dit skoon, was grafitti van ons monumente af, maak mense bewus van ons erfenis en mobiliseer vrywilligers.
“Quentin het, soos die meeste van ons gemeenskapshelde, nog nooit ’n dankie, medalje of erkenning verwag nie.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
