Brayshaws en strooijonker vier diamantbruilof
"Wat aan die dag ekstra betekenis gegee het, was dat hul strooijonker, dr. Daan van Wyk - ook ‘n inwoner van Ons Tuis, dit ook kon meemaak."
Wanneer jy bevoorreg is om in goeie gesondheid jou 60e huweliksherdenking te vier is dit besonders, maar soveel méér as jou jarelange vriend en strooijonker dit kan meemaak. Veral as julle elke dag kan saamkuier omdat julle in dieselfde aftreeoord woon.
Hierdie feestelike stemming het by Ons Tuis: Machteld Postmus in Pretoria geheers toe ds. Nico (83), emeritus-predikant van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA), en Henriëtta (81) Brayshaw hul diamantbruilof op 25 November herdenk het.
Die Brayshaws het in Ermelo die knoop deurgehak.
Hulle het drie kinders en ses kleinkinders.
“Hierdie mylpaal is op ’n voortreflike manier by die tehuis met ’n musiekuitvoering deur Rynier Prins, ’n koek en tee plus ’n spesiale spabederf vir die tweetjies in hul woonstel gevier,” sê die woordvoerder van Ons Tuis, Heleen van As.
“Hul dogter, Henriëtta Muller, het dié spesiale reëlings uit Australië vir hulle getref.
“Wat aan die dag ekstra betekenis gegee het, was dat hul strooijonker, dr. Daan van Wyk – ook ’n inwoner van Ons Tuis, dit ook kon meemaak.”
Volgens Muller, is hul geheim vir ’n gelukkige en lang huwelik om God met hul hele hart, siel en verstand lief te hê en altyd positief, nederig en opreg te wees.
“Om getroud te wees is uithou en aanhou, maar uiteindelik is dit net genade van Bo,” sê sy.
In haar suksesvolle loopbaan as maatskaplike werker, het Muller diep spore in verskeie gemeenskappe en organisasies getrap.
Sy was vir sewe jaar die nasionale voorsitter van Die Nederduitsch Hervormde Sustersvereniging (NHSV). Hul leuse “Wees ’n seën” som haar lewe ook goed op.
“Sy was onder meer op die redaksie van die Christelike Vrou en namens die NHSV-hoofbestuur die verteenwoordiger op verskeie nasionale rade, waaronder bejaardesorg, Famsa (families Suid-Afrika), Federale Vroueraad Volksbelang en Nimro.
“Sy was tot ’n beoordelaar van Jerseybeeste en ’n aktiewe lid van die Vroue-Landbouvereniging (VLV). Ons Tuis se beste wense vergesel die egpaar,” sê Van As.
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

