Local newsNews

Toekenning oortref top akadmiese leerder vir 2021 in Gauteng se verwagtinge

"Ek het oor die afgelope maande soveel van myself geleer. Ek is tot meer toe in staat as wat ek gedink het; ek is sterker en het uithouvermoë."

Hoërskool Waterkloof se Kristen Erasmus is Vrydag as Gauteng se top akademiese leerder vir die matriekklas van 2021 aangewys.

Die 18-jarige is tydens ’n geleentheid van die Gautengse onderwysdepartement by die Birchwood-hotel na die verhoog geroep om die spogtoekenning omhoog te hou.

Sy het ’n totaal van agt onderskeidings, insluitend Alpha Wiskunde, agter haar naam geskryf.

Kristen sê dat hierdie toekenning haar wildste drome oortref het.

“Ek het op die bank gesit en koffie gedrink toe ek ’n oproep van die hoof van Waterkloof, Chris Denysschen, ontvang het.

“Hy het my in kennis gestel dat ek vir die geleentheid uitgenooi is, maar ek het nie ’n idee gehad waarom nie.

“Dit is alles te danke aan die krag en talent wat God vir my gegee het.”

LEES MEER HIER: Garsfontein top performing school in Gauteng

Erasmus begin eersdaags met haar BCom Rekeningkundige Wetenskappe aan die Universiteit van Pretoria.

“Ek wil juis in hierdie rigting ingaan, omdat ek baie daarvan hou om met syfers te werk.

“Rekeningkunde was een van my gunstelingvakke en daar is ’n groot verskeidenheid beroepe wat ’n mens met ’n CA-kwalifikasie kan doen.”

Kristen sê vir een of ander rede het sy in haar agterkop gehad dat sy ’n dansjuffrou wou word.

Sy gesels oor haar “spesiale ritueel” wat sy gedurende die eksamen gevolg het.

“In die oggende voordat ek eksamen geskryf het, het ek uit my blou polkadotbeker koffie gedrink. Na afloop van die vraestel, as ek weer agter die boeke ingeklim het, het ek uit my pienk nagapiebeker gedrink. Daarna was dit uit my pers uilbeker en laaste uit my wit hasiebeker.

“Ek weet nie waar ek aan dit gekom het nie,” giggel sy.

Iets wat baie min mense van haar af weet, is dat sy ’n visfobie het.

“Behalwe dat ek dit glad nie eet nie, is ek glad nie mal oor visse nie – hetsy lewendig of dood.

“Enige gogga gril my en ek loop glad nie kaalvoet nie.”

Haar raad vir die matriekklas van 2022 is, om aanpasbaar te wees en dit dag vir dag te vat.

“Moenie vasklou aan rigiede idees van hoe jou matriekjaar moet wees nie, maar maak die beste van die tyd wat jy het en gebruik dit effektief.

“Maak ook tyd vir pret!”

Kristen Erasmus.

Sy sien haarself in die toekoms as ’n hoof- uitvoerende beampte van ’n topmaatskappy.

“Ek wil graag die wêreld sien.

“Ek het oor die afgelope maande soveel van myself geleer. Ek is tot meer toe in staat as wat ek gedink het; ek is sterker en het uithouvermoë.”

Kristen wil graag aan elke onderwyser, skoolmaat en familie dankie sê vir hulle ondersteuning.

“Almal het die ekstra myl geloop. Ek is nie een dag spyt dat ek Waterkloof as my hoërskool gekies het nie.

“Elke oproep en boodskap wat ek Vrydag ontvang het, was so spesiaal gewees.”

Van haar kernwaardes is lojaliteit, hardwerkend te wees, respek, eerlikheid en integriteit.

As daar een persoon is saam met wie Kristen op ’n foto wil wees, sal dit die burgemeester van Johannesburg, Mpho Phalatse, wees.

“Sy verpersoonlik alles wat ek in ’n mens en veral sterk vroue bewonder.”

Kristen luister ’n mengelmoes van popmusiek, die klankbane van flieks en musiekblyspele asook country musiek.

“My gunstelingfliekgenre, is romcoms. En wanneer dit by reekse op die kassie kom, is daar seker nie een wat ek al misgeloop het nie.”

 

READ THE ENGLISH VERSION HERE : Waterkloof learner receives Top Gauteng Academic learner of 2021 award

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?

Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button