Local newsNews

Kranslegging by formidabele vrou se graf

Twee-en-tagtig jaar gelede het byna 10 000 vroue van regoor die land heen danksy Henriette Armstrong na die Uniegebou in Pretoria gestap om beswaar te maak teen die Tweede Wêreldoorlog.

Lede van Afrikaanse organisasies het Maandag op Henriette Armstrong se 160e verjaarsdag kranse by haar graf in die Rebeccastraat-begraafplaas in Pretoria gaan lê.

Armstrong was een van die stigterslede van die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (Savf).

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (Savf), Voortrekkermonument, Erfenisstigting en Dameskring het die kranslegging bygewoon.

Twee-en-tagtig jaar gelede het byna 10 000 vroue van regoor die land heen danksy Armstrong na die Uniegebou in Pretoria gestap om beswaar te maak teen die Tweede Wêreldoorlog.

Armstrong het die bewoording vir die protesoptog op 22 Junie 1944 opgestel. Dié optog is binne vyf dae gereël en het vroue die kans gegee om hul stem in verset teen die oorlog te laat hoor.

Graeme Peplar, president van die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (Savf), by Henriette Armstrong se graf in die Rebeccastraat-begraafplaas in die weste van Pretoria.

Die Ossewa-Brandwag, met dr. Hans van Rensburg as hoofleier, het ’n belangrike rol in die reëlings gespeel.

Sowat 6 000 vroue vanoor die hele land het van Kerkplein tot by die Uniegebou gestap.

Langs die pad het nóg vroue aangesluit, wat die totale aantal deelnemers op 9 900 te staan gebring het.

President van die Savf, Graeme Peplar, het ook ’n vroufederasie-roos by Armstrong graf geplant en die projekorganiseerder van FAK-Kultuurnetwerk in Gauteng, Barry Müller het ’n spekboom namens die FAK daar geplant.

“Ons bring vandag hulde aan hierdie formidabele vrou. Ons moet leer uit ons geskiedenis en mense soos Henriette Armstrong onthou,” sê Müller.

Toe die Anglo-Boereoorlog in 1899 uitgebreek het, het sy as verpleegster by generaal Piet Joubert se kommando aangesluit. Sy het sewe reise met gewondes van Ladysmith in KwaZulu-Natal na Pretoria onderneem.

Barry Müller, projekorganiseerder van FAK-Kultuurnetwerke in Gauteng, en Quentin Meyer, lid van die FAK-Moot-Kultuurnetwerk, plant ’n spekboom namens die FAK by Henriette Armstrong se graf.

 

Met die Britse oorname van Pretoria op 5 Junie 1900 het sy daarheen teruggekeer en ’n groep vrywillige verpleegsters wat in die Irene-konsentrasiekamp sou werk, georganiseer.

Sy was van April tot Oktober 1901 in dié kamp en het dagboek gehou van haar wedervaringe.

Sy was bevriend met offisiere van die Britse besettingsmag en het die inligting wat hulle vir haar gegee het, deur kaptein JJ Naudé aan die boereleiers in die veld oorgedra.

Ná die oorlog, was sy in 1904 ’n stigterslid van die Savf en die volgende jaar het sy die Reddingshuis (Armstrong-Berning-sentrum) vir ongehude moeders, wat nog dekades lank sou bestaan, ingerig.

In 1911, het sy die Savf oorreed om die verwaarloosde kinderkerkhof by Irene op te knap en elke Goeie Vrydag ’n gedenkdiens en kranslegging daar te hou. Sy was ook ’n stigter van die langlaagte-weeshuis vir oorlogsweeskinders.

Tydens die Rebellie van 1914, het sy op ’n hulpkomitee wat die rebelliegevangenes van voedsel voorsien het, gedien en in 1916 het sy gehelp met die organisasie van ’n optog deur vroue wat amnestie vir die rebelliegevangenes bepleit het.

LEES MEER:  White takes 28-man squad to Italy for Zebre clash

In dieselfde jaar was sy betrokke by die stigting van die vroue-nasionale party waarvan sy hoofbestuurslid was.

Sy het hierdie party in 1919 verteenwoordig by die stigting van die bond van Afrikaanse moeders; dit was een van die eerste opleidingsentrums vir vroedvroue in Suid-Afrika.

Sy is op 17 Oktober 1944 op die ouderdom van 82 jaar oud oorlede en langs haar ma in die ou begraafplaas in Rebeccastraat in die weste van Pretoria begrawe.

Peplar sê sy eie storie het by die Armstrong-Berning-sentrum begin.

“Dankie vir diep spore wat sy (Armstrong) getrap het. Dankie vir die FAK wat hierdie inisiatief gereël het en dat julle en ander organisasies ons kultuur en geskiedenis bewaar en ons aandag daarop vestig.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button