Moreletapark-inwoner ontdek liefde vir kuns op 67
"My skildery het voor my oë begin lewe kry, en die eindproduk was iets om te aanskou en waardeer. Met my nuutgevonde belangstelling, het ek nog ‘n paar kunswerke gemaak."
’n Inwoner van Moreletapark in die ooste van Pretoria, Erna Roux, het nooit gedink dat sy eers op die ouderdom van 67 haar liefde vir skilder sou ontdek nie.
Roux het haar eerste skilderles met akrielverf in Maart 2019 bygewoon en sal haar eerste uitstalling hou om haar kunswerke met familie en vriende te deel.
Haar kunswerke kan op 26 Maart by Bronberg Restaurant in Pretoria besigtig word.

Roux het op ’n plattelandsie dorpie in Delmas grootgeword. Sy het nooit haarself met skilder of enige formele kunstighede besig gehou nie maar vertel dat haar ouma, Dolly Craven, haar liefde vir skilder, onbewustelik geskep het.
“’n Herinnering wat my altyd van my ouma sal bybly, is haar konstante geskilder in die sonkamer,” sê sy.
Al was die fondasies van vroeg af gelê, sou Erna se kunstigheid die agterste sitplek inneem vir jare terwyl sy self haar eie gesin moes help versorg.
Later, met die nessie ’n bietjie leër, het haar man, Jaco, haar weer herinner aan haar kunstalent en het hy haar konstant gemotiveer om die kwas op te tel.
Sy het weekliks teruggery Delmas toe om by Reynette Vermaak, ’n afgetrede kunsonderwyseres op die dorp, klas te loop om te leer om met olieverf te skilder.
Toe Covid-19 toeslaan, is alle klasse ongelukkig gestop.

Vermaak het ’n uitdaging vir haar studente gegee om hul eie skildery aan te pak onder die tema “Verlate”.
Hierdie was Roux se eerste groot solo-projek en die resultaat was verstommend.
Op soek na ’n mentor en leermeester in Pretoria, het Roux en Eduan Joubert se paaie gekruis.
Met geen kennis van die medium wat Joubert gebruik nie, was sy aan die diep kant ingegooi toe sy vir die eerste les opdaag en uitvind hy skilder uitsluitlik met die paletmes.
“Met Eduan se raad en bystand, het my skildery voor my oë begin lewe kry, en die eindproduk was iets om te aanskou en waardeer. Met my nuutgevonde belangstelling in paletskilder, het ek nog ’n paar kunswerke gemaak.
“Ek is nie skrikkerig om selfs die paletmes en die kwas te meng op van my eie kunswerke nie.”

Na hierdie sukses, was daar geen keer meer aan haar nie en het sy voluit begin skilder en het toenemend moeiliker projekte begin aanpak.
Met haar brandende begeerte om te skilder en die een uitdaging na die ander aan te pak, erken sy dat sy soms moedeloos raak.
“Met Jaco se ondersteuning en kritiese oog, kon ek nog elke keer by ’n suksesvolle eindproduk uitkom.
“As ek snags vir my skeppinge kyk, is ek so dankbaar dat ek die geleentheid kon kry om my Goddelike talent te kan uitleef en dit so geniet. Ouma Dolly sou voorwaar trots wees,” vertel sy.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie
