FAK durf wind en weer aan om Helde Akker-begraafplaas op te knap
"Vandag het net weereens bevestig dat mense trots op hul Afrikaner-identiteit is en ’n bewys van kulturele selfvertroue wat ’n gemeenskap help om saam te werk tot ’n gemeenskaplike doel."
Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het die afgelope naweek die snerpende koue aangedurf om ’n skoonmaak-aksie by die Helde Akker-begraafplaas in Pretoria te hou.
Lede van die gemeenskap het in groot getalle opgedaag om saam met FAK hierdie reusetaak aan te pak.

Verteenwoordigers van die erfenisstigting, Boermedia, De Goede Hoop-koshuis wat studente van die Universiteit van Pretoria, Akademia en Soltech huisves, Afriforum jeug en twee plaaslike Voortrekkerkommando’s (Polsslag en Rietvallei), het ook kom help.
Hulle het gesorg dat honderde geskiedkundige grafte in dié bekende begraafplaas skoon en netjies gemaak word.

Kultuurkoördineerder van die noordelike provinsies van die FAK, Barry Müller, sê dat hy baie dankbaar is virdie opkoms is en is trots om te weet dat mense steeds bereid is om vroegoggend op ’n koue, nat Saterdag op te staan en hierdie tipe projekte aan te pak.
“Vandag het net weereens bevestig dat mense trots op hul Afrikaner-identiteit is en ’n bewys van kulturele selfvertroue wat ’n gemeenskap help om saam te werk tot ’n gemeenskaplike doel. Selfdoen is soms net so belangrik soos saamdoen,” sê Müller.
“Die FAK se Moot-kultuurnetwerk het hard gewerk om dié projek van stapel te stuur en wat opvallend was, was hoeveel jong mense hierdie week hul moue opgerol het om hul kultuur te beskerm.”

Bekende persone soos Paul Kruger, Andries Pretorius, Jopie Fourie en Hendrik Verwoerd is hier begrawe.
Die FAK is al vir jare besig om geskiedkundige Afrikaner-erfenis te beskerm en pak gereeld projekte aan om geskiedkundige terreine op te knap.
Vir meer inligting oor die doen en late van die FAK, skakel een van die FAK-kultuurkoördineerders om uit te vind oor projekte in jou area:
– Barry Müller (noordelike provinsies) by barry@kultuurtuiste.org.za,
– Jan-Danie Malan (Vrystaat) jandanie@kultuurtuiste.org.za of
– Elizma Smith (Kaap-provinsies) by elizma@kultuurtuiste.org.za.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
