Local newsNews

Laerskool Pretoria-Oos kore kry goud by ATKV-kompetisie

Pretoria-Oos se kore tree later vanjaar saam met die Suid-Afrikaanse sanger Jak de Priester op en onderneem ’n konserttoer na die Kaap.

Pragtige kinderkoorklanke kon die afgelope naweek tydens die ATKV Applous-kompetisie gehoor word toe Laerskool Pretoria-Oos se junior en senior koor onder leiding van Elana Neethling die gehoor met hulle puik uitvoerings stomgeslaan het.

Die junior koor, wat maar slegs uit 38 lede bestaan, het ’n uiters vermaaklike program op die planke gebring en het weggestap as die wenners van die afdeling.

Hul program het afgeskop met ’n Vierkantige wêreld en die houtrame wat hulle as bykomstighede gebruik het, het ’n pragtige effek gehad.

Die juniors se SeSotho liedjie was tweestemmig en het die beoordelaars werklik beïndruk – ’n ATKV-goud (80% – 89%) is aan hulle toegeken.

Die senior koor het die gehoor op hulle voete gehad toe hulle ’n opdragwerk, Liedere van die Bloukraanvoël, gekomponeer deur Franco Prinsloo, uitgevoer het en ook met ’n goud weggestap het.

Die koor het ook aan die prestige-afdeling deelgeneem en hulle program het ’n uitdagende werk van Hendrik Hofmeyr en ’n Finse volksliedjie ingesluit.

Die soet en afgeronde koorklank is gekomplimenteer deur hul professionele begeleiers Dr. Jannie le Roux op die klavier en kontrabas en Magdalena de Vries op die marimba.

Volgens Neethling, is ’n koor se programkeuse die wegspringblok van sukses.

“Koorlede moet blootgestel word aan ’n wye spektrum genres en dit dra ook uiteraard by tot die ontwikkeling van hulle tegniek, stembou en hulle kennis en passie vir musiek van verskillende style en van regoor die wêreld,” sê sy.

Pretoria-Oos se kore tree later vanjaar saam met die Suid-Afrikaanse sanger Jak de Priester op en onderneem ’n konserttoer na die Kaap.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button