Chemiese besoedeling in die noorde van Pretoria word ondersoek
Die watermonsters word op die oomblik getoets, sê Pienaar, en dit is in hierdie stadium nog nie seker hoe die stof in die water beland het, of wie daarvoor verantwoordelik is nie.
Klagtes van inwoners oor chemiese besoedeling in die noorde van Pretoria word ondersoek.
Freddie Pienaar, DA-raadslid van wyk 87 sê Eersterust, Jan Niemandpark, East Lynne, Ekklesia, Derdepoort, Montanapark en Kameeldrift word deur dié besoedeling geaffekteer.
“Verskeie rolspelers en amptenare van relevante departemente het die afgelope week ontmoet om die probleem te bespreek, waarna terugvoer aan die gemeenskap Donderdag gegee sal word. Gemeenskapslede word genooi om 18:00 by Hoërskool Transvalia te vergader as hulle meer oor die aangeleentheid te wete wil kom,” sê Pienaar.
“Dit blyk dat die bron van die besoedeling in East Lynne geleë is, meer spesifiek die stormwaterkanaal onder Lanhamstraat.
“Aanvanklik het inwoners gekla oor ’n vreemde reuk in die omgewing, wat ruik soos elektriese omhulsel wat brand.”

Pienaar vertel dat inwoners aanvanklik gedink het inwoners van informele nedersettings vullis agter die busdepot verbrand.
“Ek het saam met lede van die polisie en brandweer ondersoek ingestel, en alle vure in die omgewing wat plastiek bevat het, is terstond geblus.
“Die reuk het egter in die lug bly hang, en amptenare van die Gesondheid- en Omgewingsdepartement is ontbied om ondersoek in te stel.”
Volgens Pienaar is lugkwaliteitstoetse gedoen, en daar is bevind dat die oorsprong van die vreemde reuk in die water afkomstig is.
“Ons het die veld in die area gefynkam saam met inwoners en GPF-lede, en ’n stroom gevind wat ’n olierige stof bevat.
“Ons het geloop en watermonsters neem vanaf Transnet tot waar die stroom uitmond in die Moretele-spruit tussen Eersterust en East Lynne. Die rivier was skoon tot by Stormvoëlweg, waar ons toe die bron van die besoedeling in ’n sytak gevind het.”

Die watermonsters word op die oomblik getoets, sê Pienaar, en dit is in hierdie stadium nog nie seker hoe die stof in die water beland het, of wie daarvoor verantwoordelik is nie.
“Omdat dit ’n chemiese stof is, verdamp dit wanneer dit die stormwaterkanale bereik, aangesien die stormwaterkanale warm gebak word deur die son. Dit bemoeilik die ondersoek ietwat.
“Al waarvan ons op die oomblik seker is, is dat dit wel ’n petroleumproduk is, wat moontlik met nog ’n stof vermeng is. Ons behoort Donderdag meer te weet wannneer ons die gemeenskap ontmoet om terugvoer te gee.”
Ander kwessies in wyk 87, wat bestaan uit Ekklesia, East Lynne Noordoos, Derdepoort, Montanapark, Kameeldrift, Roodeplaat, Leeufontein, Zeekoegat en Rynoue, is die sowat 500km-grondpaaie in die area wat in stand gehou moet word.

“Ons is ook nou besig om weer die paaie te skraap en op te vul, noudat die slaggate, straatligte en waterlekke in die area onder beheer is.
“Dan is die ander kwessie wat my aandag tans geniet, die informele nedersettings op Magaliesberg by Leeuwfontein. Ons is tans besig met die proses om die mense geskuif te kry na ’n ontwikkeling in Kameeldrift.”
LEES MEER> Soshanguve man arrested for suspected stolen batteries
