Bekende besigheidsman en eienaar van Uitkyk Vleismark sterf
Fred Cornelius is op Sondagmiddag op die ouderdom van 74 oorlede nadat sy gesondheid baie verswak het Saterdagaand.
Die Silverton-gemeenskap is hierdie week verpletter na die nuus van ’n bekende besigheidsman en eienaar van Uitkyk Vleismark, se afsterwe op Sondagmiddag.
Fred Cornelius is op Sondagmiddag op die ouderdom van 74 oorlede nadat sy gesondheid baie verswak het Saterdagaand.
Hy was die eienaar van die baie gewilde Uitkyk en Supermark Vleismark in Silverton.
Medewerker en vriend, Kobus van Eeden, sê hy sal Cornelius onthou as ’n man wat ’n voorbeeld was vir almal.
“Ek werk al sedert begin Desember 1985 by Uitkyk.
“Ek het hom leer ken as ’n man met ’n oop hand, altyd bereid om sy medemens te help wat hulp nodig gehad het.
“Hy was altyd vriendelik teenoor sy personeel, asook sy kliënte,” het Van Eeden aan Rekord vertel.
Van Eeden sal Cornelius onthou as ’n hardwerkende man, asook ’n man wat sy geloof uitgebeeld het.
“Hy was baie hardwerkend en het elke oggend douvoordag die winkel oopgesluit en dan eers teen sononder toegemaak.
“Ek het hom ook leer ken as ’n ware Christen met rotsvaste beginsels,” sê Van Eeden.
“Oor die jare heen, het menige welsynsorganisasies en privaat persone by sy bereidwilligheid om te help, baatgevind.
“Hy sal verseker deur al sy personeel asook sy familie,vriende en kliënte gemis word.”
Uitkyk en Supermark het ’n plasing Sondagaand op hul Facebook-blad geplaas.
“Sy afsterwe los ’n groot leemte in ons harte en ons gemeenskap.
“Sy vriendelike groet voor in die winkel sal ons vir nog baie jare bybly,” het Uitkyk en Supermark se Facebook-plasing gelees.
Huldeblyke van lede van die gemeenskaap het ingestroom op Facebook nadat die harsteer nuus bekendgestel is.
Die boodskappe is ’n testament aan die tipe man wat Cornelius was en hoe geliefd en gewild hy was in die Silverton-gemeenskap.
Wilma Fourie sal hom onthou vir sy vriendelike glimlag.
“Rus in vrede, Oom Fred. [Ek] gaan oom se glimlaggies mis. Jy was ’n goeie mens. Sterkte aan sy geliefdes,” het sy geskryf.
“Hy was altyd ’n goeie vriend vir ieder en elk.
“Hy was ’n ware kind van Jesus,” sê Fourie.
Ester Marais het vir 21 jaar saam met Cornelius gewerk.
“Hy was ’n man met ’n ware hart van goud,” sê sy
“Hy het omgegee vir die mense met wie hy gewerk het en ook sy gemeente.
“As iemand finansieel gesukkel het, was hy altyd bereid om hulle te help.”
Cornelius laat sy vrou, Marie, en sy twee kinders, Anita en Gert, agter.
ALSO READ:
Two shot dead in Mooiplaas informal settlement tavern shooting
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
