Rekordgetal stemme in vanjaar se Aitsa-toekennings
Aitsa-toekennings beloof om glansryke viering van Afrikaanse musiek te wees

Die Aitsa-toekennings se glansaand is om die draai waar Afrikaanse musiek elke jaar bekroon word.
Vanjaar se Aitsa Afrikaanse Musiektoekennings het ’n rekordgetal van 24 287 stemme behaal. Die stemmery het om 19:00 op Dinsdagaand, 16 November gesluit.
Vanjaar se Aitsa-toekennings het ook ’n rekord aantal inskrywings gehad.
Teen die sluitingsdatum vir inskrywings op 30 Junie vanjaar, is altesaam 389 inskrywings vir die jaar se gesogte toekenningsgeleentheid ontvang.
Slegs snitte wat vanaf 1 April 2021 tot 31 Maart 2022 uitgereik is, kon vir vanjaar se toekenningsgeleentheid ingeskryf word.
In 2019 is die eerste Aitsa-toekenning gehou en was daar 288 inskrywings. In 2021 is wel 503 inskrywings ontvang maar dit was vir ’n twee jaar-tydperk stil, omdat die Aitsas nie in 2020 kon plaasvind nie weens Covid-inperkings.
Vanjaar se 389 inskrywings verteenwoordig dus ’n 35% groei vergeleke met 2019.
Die finaliste vir die 2022 Aitsa-toekennings is op 24 Augustus bekendgemaak en sedertdien kon die publiek weekliks aanlyn stem vir hulle gunstelinge in die 13 kategorieë: Luisterliedjie, Vervaardiger, Popliedjie, Nuweling, Alternatiewe/Rockliedjie, Boeremusiekliedjie, Geestelike liedjie, Liedjieskrywer, Musiekvideo, Kunstenaar, Instrumentale liedjie, Kletsrym-/hip-hop liedjie en Afrikaanse liedjie van die Jaar.
Twee spesiale bykomende kategorieë vir die Suksesvolste Afrikaanse Liedjie, deur ’n manlike sowel is ’n vroulike kunstenaar – volgens die stromingsplatforms Spotify, Apple Music, You Tube Music en YouTube Video – sal ook by die toekenningsaand aangekondig word.
Die wenners word op 29 November 2022 by ’n galageleentheid in die Choose Life Ouditorium aangekondig.
Die publiek kan die geleentheid bywoon en kaartjies is vooraf te koop.
Riaan Benadé, Demi Lee Moore, Tarryn Lamb, Rocco de Villiers, Elandré, Droomsindroom, Simoné Roets, Refentse, Pieter Koen en Marie Molefe van Heerden sal as gaskunstenaars optree in ’n vertoning wat beloof om ’n glansryke viering van Afrikaanse musiek te wees.
ALSO READ: Laudium, Atteridgeville communities urged to speak out against GBV
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
