Local newsNews

Minister besoek papegaai-kuikens

Papegaai-kuikens wat ná twee onderskeppings by OR Tambo Internasionale Lughawe gered is, kry ’n tweede kans op lewe by die Pretoria Dieretuin. Die kuikens is onder haglike omstandighede vervoer deur smokkelaars, met sommige wat weens koueskok en swak toestande kort nádat hulle uitgebroei het, gevrek het.

Minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing (DFFE), David Maynier, het op 10 September die Suid-Afrikaanse Nasionale Instituut vir Biodiversiteit (Sanbi) by die Nasionale Dieretuin in Pretoria besoek om ’n opdatering oor die papegaaikuikens en die ondersoek te ontvang.

Eiers is onlangs in twee afsonderlike onderskeppings by OR Tambo Internasionale Lughawe van vermeende wildhandelaars gekonfiskeer is.

Die eiers is in selfgemaakte broeikaste vervoer en was tydens die smokkelpogings aan koueskok blootgestel.

Volgens Kerry Mauchline, ministeriële woodvoerder van die DFFE, het die omstandighede daartoe gelei dat baie van die eiers nie uitgebroei het nie, terwyl sommige van die kuikens wat wel uitgebroei het, nie langer as drie dae oorleef het nie.

Die DFFE het Sanbi nádat die papegaaitjies gekonfiskeer is, genader om soveel as moontlik van die papegaaie te red.

Maynier het die Sanbi-span geloof vir hul vinnige optrede en volgehoue versorging van die kuikens.

“Die ongelooflike span werk dag en nag om hierdie kwesbare kuikens ’n kans op oorlewing te gee, ondanks die omstandighede waaronder die eiers gesmokkel is. Hul toewyding en kundigheid is ’n krediet aan die instituut en ’n waardevolle bate in die stryd teen wildhandel,” het Maynier gesê.

Hoewel genetiese toetse steeds gedoen word om die spesies finaal te bevestig, dui aanvanklike resultate daarop dat die papegaaie onder meer Afrika-gryspapegaaie, galahs (rooiborskaketoes) en konures insluit.

Al drie spesies word ingevolge die Konvensie oor Internasionale Handel in Bedreigde Spesies van Wilde Fauna en Flora (CITES) gelys. Die internasionale handel en uitvoer van eksemplare van CITES-gelyste spesies word streng gereguleer en vereis permitte van die betrokke uitvoer- en invoerlande.

Minister David Maynier saam met lede van die Sanbi-span tydens sy besoek aan die Nasionale Dieretuin in Pretoria. Die span het hom ingelig oor die versorging van die gekonfiskeerde papegaai-kuikens en hul pogings om die kwesbare voëls ’n kans op oorlewing te gee. Foto: Verskaf

Mauchline wys daarop dat wetgewing voorsiening maak vir ernstige strawwe.

Ingevolge Artikel 102 van die Nasionale Omgewingsbestuur: Biodiversiteitswet, 2004 (Wet 10 van 2004), kan ’n persoon wat aan ’n oortreding ingevolge artikel 101 skuldig bevind word, ’n boete van tot R10-miljoen, gevangenisstraf van tot tien jaar of beide opgelê word.

Die verdagte wat tydens die tweede onderskepping in hegtenis geneem is, se borgtogaansoek is tot 16 September uitgestel. Aanklagte van dieremishandeling sal ook by die klagstaat gevoeg word weens die omstandighede waarin die eiers vervoer is.

Die ondersoek word ondersteun deur verskeie wetstoepassingsagentskappe, waaronder die department se Omgewingsbestuursinspektoraat, oftewel die Groen Skerpioene, SAPD Misdaadintelligensie en SAPD Grenspolisie. Lede van die polisie se Eenheid vir Veediefstal en Bedreigde Spesies bied ook ondersteuning.

Minister David Maynier hou een van die kwesbare papegaai-kuikens vas tydens sy besoek aan Sanbi by die Nasionale Dieretuin in Pretoria, waar hy ingelig is oor die kuikens se herstel en die ondersoek. Foto: Verskaf

Die owerhede ondersoek intussen die moontlike wyer internasionale netwerk agter die smokkelary, met ondersteuning van ander lande en internasionale organisasies.

Maynier het beklemtoon dat die bekamping van georganiseerde wildhandel ’n prioriteit vir die regering is.

“Omgewingsmisdaad is georganiseerde misdaad. Ons moet sterk staan teen komplekse, internasionale kriminele netwerke,” het hy gesê.

Hy het bygevoeg dat hy met sy departement in gesprek sal tree oor beter hulpbronne en ondersteuning vir die Groen Skerpioene.

“Ons moet ’n duidelike boodskap stuur: Onwettige wildhandel sal nie in Suid-Afrika geduld word nie.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button