Melgisedek-uitsetting op nippertjie tydelik deur hof gestuit
Die metro se plan om Dinsdag met die uitsetting van Melgisedek-inwoners te begin, is Maandagaand op die nippertjie tydelik deur die Hooggeregshof gestuit. Lawyers for Human Rights berei nou hofstukke voor vir ’n verdere uitdaging in die Grondwethof.
Die uitsetting van honderde inwoners van die omstrede Melgisedek-eiendom in die Moot is Maandagaand, minder as 24-uur voordat dit sou begin, deur die Hooggeregshof gestuit.
Die dringende hofingryping volg nadat die Appèlhof op 3 September die weg gebaan het vir die uitvoering van ’n vroeëre uitsettingsbevel teen die inwoners.
Die metro het daarna aangedui dat hy reeds Dinsdag met die uitsettings sou begin.
Lawyers for Human Rights, wat die inwoners verteenwoordig, het Maandagaand ’n dringende aansoek in die Hooggeregshof gebring om die uitvoering van die bevel voorlopig te keer en tyd te kry om die saak na die Grondwethof te neem.
Die hof het gelas dat geen inwoners van die Melgisedek-gebou en -kompleks verwyder mag word voordat nuwe hofstukke deur die partye ingedien is en die Hooggeregshof op 18 September verder oor die aangeleentheid beslis het nie.
Die metro se regsverteenwoordigers het tydens die dringende aanlyn sitting om 20:00 bevestig dat die stad van plan was om die uitsettings Dinsdag te begin. Hulle het egter ingestem dat geen uitsettings kan plaasvind voordat die vereiste hofstukke ingedien is nie.
Die uitspraak bring voorlopig verligting vir die inwoners, maar die groter regstryd oor die toekoms van Melgisedek is nog nie verby nie.

Die Pretoriase Hooggeregshof het in Maart vanjaar ten gunste van die metro se uitsettingsaansoek beslis.
Lawyers for Human Rights het dié beslissing daarna na die Appèlhof geneem.
Die Appèlhof het op 3 September teen die inwoners beslis, waarna die metro se weg vir die uitvoering van die uitsettingsbevel oop was.
Louise du Plessis van Lawyers for Human Rights het gesê die organisasie was diep teleurgesteld oor die metro se reaksie op die Appèlhof-uitspraak en sy voorneme om onmiddellik met die uitsetting en moontlike sloping van strukture op die eiendom voort te gaan.
Du Plessis het bevestig dat Lawyers for Human Rights die saak na die Grondwethof wil neem. “Ons neem dieselfde aansoek, dat hulle nie geskuif kan word sonder behoorlike alternatiewe verblyf en ’n langtermyn plan, na die Grondwethof.”
Sy het gesê dit is uiters teleurstellend dat die metro die Appèlhof se beslissing as ’n oorwinning vier. “Die sluiting van Melgisedek sal nie haweloosheid oplos nie, maar bloot honderde kwesbare mense elders heen stoot, insluitend na omliggende woonbuurte soos Colbyn,” het sy gesê.
Volgens Du Plessis het sy Melgisedek se geboue in Maart besoek en daar ’n funksionerende en georganiseerde gemeenskap aangetref waar mense mekaar ondersteun.
Sy meen die oplossing behoort eerder te wees om met die inwoners se leiers saam te werk om die situasie te verbeter as om die eiendom eenvoudig te sloop.
Een van die belangrikste geskille is waarheen inwoners verskuif sal word indien die metro met die uitsetting voortgaan.
Flora Monama, burgemeesterskomiteelid vir Korporatiewe en Gedeelde Dienste, het die Appèlhof se uitspraak as ’n belangrike oorwinning vir die metro se pogings om onveilige geboue aan te pak, beskryf.
Volgens Monama verwyder die Appèlhofbeslissing ’n verdere regsversperring in die stad se pogings om die Melgisedek-eiendom te beveilig, onwettige bewoning te beëindig en die sloping van onveilige strukture moontlik te maak.
Nadat die uitsettingsbevel vroeër vanjaar toegestaan is, was daar egter aansienlike gemeenskapsweerstand teen die voorgestelde verskuiwing van inwoners na ’n tentedorp in Gezina.

Die VF Plus sê hy sal die gemeenskappe van Gezina en Capitalpark bystaan om te keer dat die hervestiging van Melgisedek-inwoners die woonbuurte benadeel.
Volgens die VF Plus kan die metro se plan om inwoners na ’n tentedorp in Capitalpark te verskuif, ernstige gevolge vir sowel die inwoners as die omliggende gemeenskappe hê.
“Dit is moedswillig en kwaadwillig en bied geen daadwerklike oplossing vir die probleem nie. Almal ly skade as gevolg van die metro se hardvogtige optrede,” sê die party se koukusleier, Willie Spies.
Die DA sê die Appèlhof se beslissing maak die weg oop vir die uitsetting van inwoners, maar waarsku dat ’n tentedorp in Gezina nie geskikte alternatiewe verblyf is nie.
Volgens die DA het die party reeds tydens die hofsaak gewaarsku dat die tentedorp by die hoek van Johann Heyns- en Nico Smithstrate bloot ’n nuwe informele nedersetting sonder voldoende water- en sanitasiegeriewe kan word.
“Die stad behoort nie bestaande gemeenskapsgeriewe wat vir sport en ontspanning gebruik word, in ’n hervestigingskamp te omskep nie,” sê DA-koukusleier Cilliers Brink.
Brink het intussen aan die metro se stadsbestuurder, Johann Mettler, geskryf om duidelikheid oor die metro se planne te kry.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel