AfriForum-buurtspan maak ‘n verskil
Padhoeke is skoongeskoffel, randstene is geverf, gras is gesny en grond is weggery.
AfriForum se Groter-Moot span bly toegewyd om die parke en paaie in Moot skoon te hou en te bewaar.
Die dorp se buurtwag werk in spanne om hul doelwitte te bereik.
Met hul vele projekte, beoog die buurtspan om die Moot veilig en mooi te maak vir almal wat daar bly.
Dele van Moulton Park was in in ’n verwaarloosde toestand voor die span dit opgeknap het.
“Die afgelope week het een van ons buurtspanne die rondomtalie in Moulton, wat ons laat herstel het, geverf.
“Invicta het die rondomtalie oorgedoen en vir ons terug gebring.
“Die buurtspanne het hom saam met werkers van ATW Construction teruggesit in die parkie.
“Dit is ook nou vrolik geverf. Ons wil graag vir ATW Construction bedank wat vir ons die onderlaag vir verf geborg het,” sê Andries Opperman, buurtbeampte vir AfriForum Groter Moot.
Hy sê hy is baie tevrede met wat die buurtspan dusver kon bereik het.
“Nog een van ons buurtspanne het padmerke in Moultonlaan geverf.
“Die padverf was gedeeltelik geborg deur LMI Scales.
“Ons verf ook voetoorgange en stoptekens sodat Moot-inwoners veilig met hul kinders kan stap en fietsry,” vertel Opperman.
“Hierdie vorm deel van hulle doel om die Moot voet- en fietsvriendelik te maak.”
Een buurtspan werk elke dag in Fratesweg.
“Een van die lede se salaris word geborg deur ’n plaaslike besigheidsman, Barend du Plessis.
“Padhoeke is skoongeskoffel, randstene is geverf, gras is gesny en grond is weggery.
“Ons nooi inwoners uit om met ons in verbinding te tree as hulle graag so ’n span wil help befonds in een van die ander hoofpaaie in die Moot.”
Opperman het aan Rekord verduidelik hoe hard hulle aan hul nuwe kameraprojek werk.
Daar is reeds twee nuwe kameras opgesit waarvan die buurtwag die inligting ontvang.
Die buurtwag hou elke dag sigbare eenheidspatrollies.
“AfriForum Groter Moot se droom waaraan ons bou deur die krag van die gemeenskap is ten minste agt buurtspanne, elk met sy eie bakkie of trokkie, wat dwarsdeur die Moot besig is om ons Moot-dorp skoon te maak en in stand te hou.
“Ons nooi graag inwoners wat hierdie droom deel uit om aan te sluit as lid by AfriForum.
“Besighede wat saam wil bou, dalk nog ’n salaris wil borg of wil help koop aan ’n bakkie kan gerus ons kontak by grotermoot@afriforumtak.co.za
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
