EntertainmentLocal newsNews

Ruan Josh se nuwe enkelsnit speel klaar met beurtkrag-blues

Ruan Josh se nuwe enkelsnit “Ligte Af” is geskryf om Suid-Afrikaners op die maat van Euro-pop- klanke die heupe te laat swaai – al is dit nou in die donker!

Sanger Ruan Josh (32) het op Vrydag, 30 Junie met die vrystelling van sy nuwe Euro-Pop enkelsnitliedjie “Ligte af” ’n plan gemaak om “lig” in die lewe van Suid-Afrikaners te bring met ’n beurtkragliedjie.

“Ek dink ons moet maar die beste van hierdie slegte saak maak.”

Hy het die liedjie saam met sy suster Franja du Plessis geskryf. Hulle wou daarmee seker maak dat die swaarmoedigheid rondom beurtkrag afgeknip word.

“Ek wil wys jy kan ook in die donker dans! Die musiek of die lewe hoef nie op te hou as die ligte afgaan nie.”

Dié oudste seun van Afrikaanse lieflingsanger Juanita du Plessis, glo om sulke humor en hoop in liedjies aan te gee.

“Selfspot kan dalk net bietjie help met die beurtkragfrustrasies.”

Hy wil hom vestig as ’n sanger wat inspireer. Sy gewildste liedjie, die gospeltreffer “Provider” is al meer as 2.3 miljoen keer oor alle platforms gestroom.

Josh, wat sy tweede naam Joshua verkort het om as verhoognaam te neem, glo dat sy eie swaar tye in 2019 hom geleer het om ook op die positiewe in enige situasie te fokus.

“Ek is ’n ewige optimis.”

Die nuwe enkelsnit van sanger Ruan Josh “Ligte af” spot met beurtkragfrustrasies en wys hoe mens kan aanhou dans in die donker.

Hy was nou betrokke by finansiële terugslae wat die Du Plessis-gesin se musiekverspreidingsmaatskappy ondergaan het.

Om die beurtkrag-blues op die maat van musiek te laat verdwyn, het meer as 20 geesdriftige Josh-aanhangers hul makietie-skoene afgestof en op 23 Junie in’’n huis in Garsfontein in Pretoria bymekaar gekom.

Tydens hierdie Ligte af-partytjie is die musiekvideo van die enkelsnit geskiet.

Die storielyn van die video wys hoe ’n kragopwekker ’n seën vir ’n huisgesin kan wees.

Josh het hiervoor hande geneem met ’n energiemaatskappy om te wys hoe herlaaibare litium-ioon batterye kan help om letterlik die ligte aan te hou.

Die video sal op 14 Julie lewendig op sy YouTube-kanaal beskikbaar wees.

Hy het self ook sy heupe geswaai om die video te maak.

Hy vertel laggend hy dans sedert vyfjarige ouderdom toe hy op die liedjie “Deur jou vingers val” van Steve Hofmeyr sy dansritme vir die eerste keer gevind het.

Alhoewel dit sy droom was om ’n sanger te word, het hy egter net op aandrang van ’n onderwyseres deel van sy skool se kabaretgroep geword.

“Ek is maar skaam. Met my eerste optrede van ’n liedjie van Westlife ‘Evergreen’ het my broek maar gebewe.”

Josh erken dat hy nie ’n groot sukses met klavierlesse was nie en te lui was om note te leer lees.

’n Vinnige drie maande lange kursus in sang het hom geleer om sy sangvaardighede op te skerp en die res is geskiedenis.

Sy album Kaalvoetkind, opgeneem saam met sy ma en suster, het platinumstatus bereik. Die liedjie “Just an Illusion”, wat hy ook saam met hulle vertolk, het multiplatinumstatus behaal.

Sy debuutalbum, Eggo, wat sewe jaar gelede verskyn het, staan op goue status.

Hierdie suksesse het hom gehelp om meer selfvertroue te kry.

Hy is tans besig in die opname-ateljee om aan sy tweede album, Wysers, te werk.

Voorlopig is die vrystelling vir 22 September vanjaar geskeduleer.

“Ek wil seker maak die album vestig my identiteit as ’n inspirerende Afrikaanse sanger in watter styl ek ookal mag sing.”

AfriForum Moot-buurtspan takel Suid-spruit

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?

Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button