Nuwe lewe, boek en tatoe vir skrywer
Joernalis Marizka Coetzer het 'n nuwe blaadjie omgeslaan en weier om langer bekend te staan as die “eksmeisie van 'n moordenaar”.
Die joernalis Marizka Coetzer wil nie langer bekend staan as Marizka van die Krugersdorpmoorde nie. Ook nie as “Friskie Marizkie” nie.
Beslis ook nie langer as “daai meisie wat verlief was op die reeksmoordenaar in die tronk nie”.
“Ek het daai Marizka op die mynhope in Krugersdorp gelos,” vertel sy laggend. Sy woon nou in Pretoria.
Om daad by woord te voeg het sy een oggend vanjaar opgestaan en ’n nuwe tatoeëermerk gaan kry. Een wat ’n nuwe begin simboliseer.
Boonop op ’n opsigtelike plek op haar voorarm sodat sy voortdurend aan haar nuwe begin herinner word.
Sy het ook op dieselfde dag besluit om by die Parkrun-beweging aan te sluit om fikser te word, haar tweede boek klaar te maak.
Sy het ook haar blonde hare soos gebruiklik met ’n verandering in haar lewe met ’n pienk streep versier.
Coetzer het ’n twee jaar lange verhouding met veroordeelde moordenaar Le Roux Steyn gehad toe hy 22 jaar oud was. Sy het oor die moordhofsaak waarin hy betrokke was, verslag gedoen.
Die romanse het gedurende die verslaggewing begin. Steyn is effektief tot 25 jaar gevonnis vir sy rol as deel van die kultusgroep wat tussen 2012 en 2016 11 moorde in Krugersdorp gepleeg het. Hy het skuld beken.
Coetzer is te siene in die treffer dokumentêre film wat vir stroomdiens Showmax daaroor gemaak is, Devilsdorp (2021).
Aan die agterkant van haar nuwe merk, ook op haar voorarm, pryk veel ouer merke soos ’n droomvanger.
Die merke het sy as liefdesbetuigings aan die veroordeelde reeksmoordenaar, Steyn, tydens hulle romantiese verbintenis laat aanbring.

Van hierdie ontwerpe het hy self geteken.
Dis juis in die tyd tussen die aanbring van hierdie eerste en tweede merke wat Coetzer die kopskuif gemaak het.
Veel hiervan was noodgedwonge. Sy het as gevolg van haar verhouding met Steyn, haar werk by Huisgenoot-tydskrif verloor en haar kind is vir ’n ruk volgens ’n welsynsbevel in haar ma se sorg toevertrou.
Sy het haarself op haar waterskeidingsdag belowe sy sal nie weer in ’n afhanklikheidsverhouding beland nie.
Sy het ook besluit om gewig te verloor en ’n sukses maak van haar nuwe pos as joernalis by The Citizen-koerant.
“Ek het geen berading ontvang nie, maar moes my eie wysheid vind. Ek sien nie weer kans vir ’n afvlerkliefde nie.”
Bly weg van toksiese verhoudings is ook die boodskap wat sy na haar 44 000 TikTok-aanhangers wil uitkry.
Marizka het in 2020 met Steyn uitgemaak toe hy reeds in die tronk was. Daar was egter gou ’n ander nuwe liefde in haar lewe.
Sy het die verhouding aan die begin van die jaar na twee jaar beëindig. Sy is nou reeds ’n ruim tydjie enkellopend.

Coetzer se tweede boek, Die duiwel is in die detail, uitgegee deur NSSkrywershuis (R250), is vir haar ’n simbool van die skuif van emosionele grense.
“Met die eerste boek was ek nog ’n moordenaar se meisie. Nou is ek ’n alleenloper wat tyd saam met my dogtertjie waardeer.”
Coetzer het met haar eerste boek, Afspraakmoorde: Liefde in die tronk, die trefferlyste gehaal.

Haar tweede boek het egter ’n ander doel.
“Die skryf van die tweede boek het my gehelp genees. Onthou, ek moes myself heeltyd afvra hoekom mag ek nie lief wees vir ’n moordenaar nie?”
Sy het wel stadigaan begin antwoorde kry hoekom toksiese verhoudings ’n patroon in haar lewe is. Een hiervan is ’n traumatiese kindertyd.
Die draaipunt het vir Coetzer gekom toe daar juis vlugtig ’n hervatting van haar verhouding met die moordenaar in die tronk was.
Sy het egter ’n e-pos uit die tronk van Le Roux ontvang waarin hy die verbintenis finaal beëindig het.
Daarin het hy geskryf: “Jy het mos nou jou storie. Gaan aan met jou lewe.”
Coetzer meen haar verhouding met hom was egter nooit net nog ’n joernalistieke opdrag vir haar nie.
“Hy was nooit net nog ’n storie vir my nie.”
Sy sê sy het nog nooit teruggekyk na verhuising na Pretoria nie. “Ek het meer tyd vir selfondersoek. Ek word op afsprake uitgevra, maar wil eers gewig verloor en ’n beter selfbeeld kry. Ek dink my swak liggaamsbeeld het veel te make met my patroon om toksiese verhoudings aan te gaan.
“Die vraag bly: Hoekom kan en mag ek nie liefde najaag nie? Maar ek besef nou ek het nog nie nie die raamwerk vir ware en opregte liefde nie.”
Sy is deel van ’n gewigsverliesuitdaging. “Ek wil kyk watter beste Marizka ek kan word. Die een met die nuwe tattoo.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
