EntertainmentLocal newsNews

Christiaan Baartman sing die dansvloer aan die brand

“Vellies is natuurlik my gunstelingskoene vir so ’n geleentheid, omdat dit so lekker oor die dansbaan gly.”

Na ’n lang en stresvolle week by die werk, is ’n mens soms net lus om oor ’n naweek pret te hê en ’n bietjie saam met jou vriende te gaan dans.

Dit is presies waaroor “Vellies Op die Dansvloer”, die musikant en liedjieskrywer Christiaan Baartman se splinternuwe Afrikaanse popsnit gaan.

Hierdie opgewekte verwerking, uit sy eie pen en ateljee is ’n sorgvrye lied wat luisteraars se voete sal laat jeuk om ’n maat te gryp en oor die dansvloer te skoffel.

“Almal van ons was al op ’n Vrydagaand lus om iets lekker te doen en dan eindig jy saam met jou pêlle op by die naaste dansplek,” verduidelik Baartman.

“Vellies is natuurlik my gunstelingskoene vir so ’n geleentheid, omdat dit so lekker oor die dansbaan gly.”

“Vellies Op Die Dansvloer” is dié sanger se 16e enkelsnit in vier jaar en volg in die voetspore van sy jongste vrystelling, “Liewe Lawwe Lettie”.

Die Pretoria-kunstenaar is dankbaar vir die positiewe manier waarop sy musiek deur plaaslike gehore ontvang word en voel bevoorreg om sy passie te kan uitleef.

Dit is daarom ook nie vreemd dat wanneer hy nie studeer nie, hy soveel tyd as moontlik in die ateljee en op die verhoog spandeer nie.

Buiten vir nog ’n Afrikaanse enkelsnit en ’n opwindende nuwe duet, werk hy en Pedro Barbosa ook hard aan ’n Engelse country-nommertjie.

Baartman wil graag die snit in Nashville vrystel.

Die sanger is al byna vir twee dekades in die musiekbedryf doenig en het sy eerste album in 2008 uitgereik.

Oor die jare, het hy baie hoogtepunte bereik waaronder verskeie musiektoekennings, ’n kinder-album saam met Leon Jonkman.

Hy het ook om die finale ronde bereik op Idols SA in 2006.

“‘Vellies Op Die Dansvloer’ is ’n lighartige liedjie wat jou uitnooi om saam te sing en die dansvloer aan die brand te dans.

“Dis ’n lekker skoffellied en ons gaan hom nog lank op die dansvloer en by troues hoor.

“Dit kan ek julle belowe,” sluit hy af.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Check Also
Close
Back to top button