Eksentrieke Sandilands ruk, rol en jol pouveer in die hoed en al
Akteur, sanger en liedjieskrywer Neil Sandilands se Wintertoer van die Kaap tot Mpumalanga saam met gesoute musikante sorg vir 'n eksentrieke soort vertoning vol melankoliese anekdotes en nostalgiese ballades.
Internasionaal-bekende akteur Neil Sandilands (48) het gisteraand tydens sy Wintertoer-vertoning by die Blou Hond-teater in Lynnwood Manor een van die beste rolle ooit in sy lewe gespeel.
Hy was net sy teatrale self, pouveer in die hoed en al, saam met bekende baskitaarspeler Schalk Joubert (van Oppiestoep-faam), die kitaarspeler Frank Freeman en Ronan Skillen, op perkussie.
Sandilands vermaak deur die vertoning met ’n swierige swaai van sy pouveerhoed af te skop en om die finale buiging weer met die hoed te maak.


Dis nou nadat hy sy swart toeknoopjas van sy skraal lyf losgeknoop het en met die T-hemp met die naam “Frikkie” gespog het.
Die naam is ’n verwysing na sy alter ego Frikkie Hermes Duvenage, die ou met die 9-mil rewolwer en die tawwe Tienie-houding uit sy ballade “Goue Graal”.
Hy het met sy anekdotes en liedjies in sy kettingrokerstem, mymerend soos Tom Waits, gesorg vir ’n sonderlinge musiekreis met Suid-Afrikaanse klanke en stories so souterig soos kaiings.
Die pouveer in sy hoed is sy protes teen die alledaagsheid van die lewe. Hy wil soos die digter uit die Ceresberge, Boerneef, hiermee protes aanteken.
“Wat dra my deur hierdie tye? Om ten spyte van alles ’n dandy met ’n pouveerhoed te wees en nie toe te laat dat enige iets my onderkry nie.”
Die verwysing na Boerneef se gedig met die verslyn “Agter die gordyne begin die dag dans met ’n pouveer in sy hoed” is een van vele kopspronge wat die intellektuele rocker maak.
Sandilands het van die liedjies soos “Wals van die Dodery” vanaf sy nuwe album wat in Mei vrygestel is, Allegaarkie vir ’n Askeet, gesing.


Dit is sy tweede vollengte album in twee jaar.
En ja, die Afrikaanse benaming vir ’n “mixed grill” spel hy wel met ’n “-kie” eerder as “-tjie” vir die binnerym se onthalwe.
Die klanke van veral sy minneliedjies is bittersoet en was sterk akoesties ondersteun deur Freeman se melankoliese kitaarspel.
Ronan Skillen op perkussie het ook nie agtergebly om unieke windinstrumentklanke toe te voeg tot die vuurwarm kitaarspel nie.
Hy het selfs ’n didgeridoo uitgehaal om ’n spookagtige en onheilspellende klank aan van die ballades te gee.
Die baskitaar-virtuoos, Schalk Joubert, se sonderlinge vertolking van “Sarie Marais” as ’n stadige inleiding tot ’n op-en-wakker mazurka is ’n kragtoer op sy eie.
Joubert weet nou maar eenmaal hoe om ander musikante op hul beste te laat klink met sy ondersteunende spel.
Maar dit is met sy Karoo-roadtrip-liedjie “Goue Graal” wat Sandilands se lirieke, eie kitaarspel en rasperstem die meeste tot sy reg kom.
Hy vertel ook hoe hierdie liedjie “uit die eter” na hom gekom het toe hy in Los Angeles ’n groep mense dopgehou het wat oor karjaagtogte, gewere en wulpse dames gesels het.
Sandilands is filosofies oor sy tuiskoms in Suid-Afrika nadat hy vir drie jaar in die buiteland gewerk het.
Hy was onlangs in die film The Drone (2019) te siene en sal in 2024 op die silwerdoek in Kingdom of the Planet of the Apes verskyn. Aanhangers kan hom ook sien in die filmstroomdiens Netflix se reeks, Sweet Tooth.
In sy vertolking van sy liedjie “Kômmôsêdiesê” kom die hartsverlange om nie langer ontheem te wees nie duidelik uit met ’n flamenco-klank of twee.
Tydens die pandemie kon hy nes skrop in Onrus in die Overberg.
Hy vertel tydens die vertoning die verhaal van sy oupa Joe Sandilands en sy vrou, Nettie. Sy oupa het vir sy ouma ’n sentimentele poskaart tydens die Tweede Wêreldoorlog gestuur waarop sy kleinseun mettertyd afgekom het.
“Ek kan hiermee identifiseer. Een of ander tyd wil ons almal weer huis toe kom.”
– Sandilands en sy orkes se Wintertoer van die Kaap tot Mpumalanga sluit 22 optredes in 22 dae in. Meer besonderhede is op sy Facebook-bladsy Neil Sandilands beskikbaar.

Pretoria se kleurryke wedloop op erfenisterrein weer aangebied
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
