Nádine neem gehore eersdaags op kleurvolle musiekreis
Sanger Nádine wil aanhangers met haar nuwe vertoning, Kleure, op 'n emosionele reis vol nostalgie neem deur liedjies met kleure daarin soos Fields of Gold te sing en flambojante uitrustings daarby te dra
Na ses weke van stres en spanning rondom Derick Hougaard se gesondheid is sanger Nádine eersdaags op die verhoog landwyd met ’n nuwe vertoning, Kleure, waarin sy haar aanhangers op ’n musikale reënboogreis wil neem.
Sy sê sy het uit die afgelope weke geleer om die lewe dag vir dag aan te pak.
“Ek het weer ervaar dat mens die meeste van elke geleentheid moet maak. Ek is ook weer herinner hoe kosbaar die lewe is.”
Sy het op 10 Junie op ’n bewustelose Hougaard afgekom. Na ’n diagnose van aspirasie longontsteking het Hougaard behandeling in die Steve Biko Akademiese Hospitaal in Pretoria ontvang.
Hy was 13 dae in ’n koma.
Na sy ontslag sterk hy nou tuis aan en ondergaan fisioterapie om sterker te word.
“Dis ’n uitdagende en moeilike tyd vir vele van ons. Ek weet veral op ’n emosionele vlak, is dit vir baie mense ’n intense jaar.”
Vir die 41-jarige sanger is so ’n nostalgiese vertoning dalk juis nou die regte manier om perspektief te kry.
“Die vertoning is so saamgestel omdat die lewe eintlik ook soveel skakerings van kleur het. Daar is warmrooi vir passie en liefde, en kreatiewe groen. Daar is skakerings van lig en donker wat vreugde en swaarkry uitbeeld.”
Vir haar dra elke liedjie in die vertoning rondom kleur ’n sekere emosie.
“Dit hang egter af van hoe luisteraars dit hul eie maak. Ons kan almal dieselfde liedjie luister, maar ons voel elkeen in ons hart iets anders wanneer ons dit hoor.”
Die afgelope weke was vir haar ’n tuimeltreintjierit van vele emosies.
“Ek wil diegene wat die vertoning bywoon, op ’n reis deur emosies neem.”
Van die liedjies in die vertoning is ou gunstelinge soos “True Colours” van Cindy Lauper, “Red red wine” van UB40 en “True Blue” van Madonna. Ook Tom Jones se “Green Green Grass of Home” en Prince se “Purple Rain” kry ’n kleurtjie van sy eie.
Haar gunstelingkleur om te dra in hierdie vertoning is goud. Een van die verwerkings is juis Spandau Ballet se “Gold”.

Nádine se klerekas vir die vertoning bult reeds met kleurvolle en elegante uitrustings.
“Met my optrede kan ek speel met amper enigiets te dra. Dis lekker om te weet ek het soveel vryheid. Ek kan uitspattig wees want dit is waaroor die vertoning gaan.”
Een van haar gunstelingliedjies met kleur in, “Fields of Gold” van Sting, is ook op die program.
“Ek dink dit gaan vir my ’n oomblik wees waar ek stilstaan en verlore raak in die musiek.”
Sy beplan om die vertoning ook landwyd te neem en groot lokale soos by Vereeniging se Die Barnyard by Silverstone Casino (1 September) en Kaapstad se Heroes (11 Augustus) neem reeds besprekings in.
“Hopelik spreek dit gehore aan. Dit is ’n besonderse produksie wat nie sommer in ’n halfuur afgehandel kan word nie.”
Haar mees onlangse treffer “Liefde sonder ’n maar” is in November 2022 uitgereik.
Om ook sulke gevoelvolle liefdesliedjies en lirieke te vertolk, bly vir haar ’n kuns. Kleure spreek egter die volle spektrum van gevoelens aan.
“Daar is vrolikheid, nostalgie en kalmte in die liedjies wat ek gekies het. Ek dink die gehore sal dit aanvoel.”
– Nádine se vertoning Kleure word op 20 Julie om 19:00 by die Atterbury-teater aangebied. Vir die verdere vertoningsprogram sien haar Facebook-blad
Eksentrieke Sandilands ruk, rol en jol pouveer in die hoed en al
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
