EntertainmentLocal newsNews

Pretorianer laat harte vinniger klop in TV-kanaal se eerste hospitaaldrama

Pretorius meen die reeks is beslis vir kykers wat hou van werklikheidsgebeure. “Dis nie ’n soetsappige hospitaalstorie nie. Die reeks het wel lekker ligte oomblikke tussen die swaar oomblikke."

’n Oud-leerling van Laerskool Fleur en Hoërskool Centurion vertolk eersdaags een van die hoofrolle in kykNET se nuwe hospitaal dramareeks, Hartklop.

Simoné Pretorius meen die reeks is beslis vir kykers wat hou van werklikheidsgebeure.

“Dis nie ’n soetsappige hospitaalstorie nie. Die reeks het wel lekker ligte oomblikke tussen die swaar oomblikke.”

Dié oud-inwoner van Lugmagbasis Waterkloof, verduidelik dat nege karakters, elkeen met sy eie storie, werk saam in die Beyers Naudé Akademiese Hospitaal. Dis ’n fiktiewe staatshospitaal in Johannesburg en die top-opleidingshospitaal in die land.

“Ek glo jonk en oud sal by die karakters kan aanklank vind.”

Van die nege hoofkarakters is drie dokters wat die eerste episode vir hulle eerstejaar-internskap aanmeld. Pretorius is dr. Elani Breytenbach wat uit ’n bevoorregte huis kom en ’n regsgeleerde ma het wat alles vir haar dogter sal doen.

Die oud-Matie in haar 30s meen sy kan haar soms met haar karakter, Elani, vereenselwig.

“Ek onthou hoe dit was om nog nat agter die ore op ’n stel in te stap en heel naïef te dink almal sou van my hou.”

Sy glo dit sou vir haar moeilik wees om in die werklike lewe ’n dokter te word. Pretorius het drama by die Universiteit van Stellenbosch studeer.

“Ek sou heeltemal té betrokke geraak het in my pasiënte se lewens, iets wat Elani ook dan doen. Sy gee haar hart te maklik weg, word daarteen gewaarsku, kry seer, maar besluit om nie te verander nie. Sy sien watter impak verhoudings op haar pasiënte se lewens en gesondheid maak.”

Die hospitaaltonele is in sale en teaters by die Solomon Stix Morewa-gedenkhospitaal en by die Universiteit van die Witwatersrand in Johannesburg verfilm.

Die mediese gevalle wat deel van die verskeie storielyne is, is alles gegrond op werklike gevalle en ’n span dokters en mediese kenners het as konsultante gedien.

Opgeleide verpleegsusters het met die verfilming van die operasietonele gehelp om dit so realisties moontlik te maak.

Pretorius sê sy het darem al ’n paar lewenslesse geleer wat sy vermoed haar karakter nog moet baasraak.

“Elani weet wel nie wanneer om ’n wag voor haar mond te sit nie en soms lees sy nie ’n vertrek nie. Ek dink ek het beide darem teen dié tyd aangeleer.”

Sy het die rol in die hospitaal dramareeks met ’n spesifieke instelling aangepak.

“Ek is van nature baie bang vir naalde en nie lief vir liggaamsvloeistowwe nie. Veral nie bloed nie. Ek wou myself uitdaag.”

Pretorius is bekend vir haar vertolking van Irma Humpel in die 2016 Afrikaanse biografiese film, Vir die voëls.

Haar vertolking in die film was hoog aangeskryf.

Sy is ook bekend vir haar rol in kykNET se spotreeks Hotel, waarvoor sy ’n nominasie ontvang het in die kategorie Beste aktrise in ’n komiese TV-reeks van die SA Film en Televisie Toekennings.

Sy voel dat daar ook ’n ander uitdaging in die hospitaalreeksrol opgesluit is.

“Die vooruitsig om na my rolvertolking in Hotel in dieper materiaal te kon delf, het my opgewonde gemaak.”

Sy meen die nuwe reeks bring veel wat nuut is tot die hospitaaldrama-genre.

“Dis multikultureel en eg Suid Afrikaans. Dit draai nie doekies om nie.”

Kykers mag moontlik verras word deur temas, soos geloof se rol in die gesondheidswêreld, wat aangespreek word.

“Daar is ’n paar kinkels in die kabel. Die einde gaan kykers ook definitief verras. Toe ek die laaste paar episodes begin lees, kon ek dit nie neersit nie.”

Sy voel elke liewe akteur staan hul skoene vol en doen hul gestand aan hul rol.

Haar pad vorentoe in die vermaaklikheidswêreld mag dalk binnekort ’n nuwe wending neem wanneer sy die bedryf agter die skerms betree.

Vir eers geniet sy egter ’n meer ongekompliseerde lewe.

“Ons bly heerlik in Pretoria en gaan graag oor naweke na die Irene-suiwelplaas in Centurion.”

Sy is ook lief om naweekmarkte saam met Andries en haar kleuter, Harper, te besoek en gereeld oor en weer by familie te kuier.

“Ek hou van gesellig wees by die huis. Ek is rustig met waar ek nou in my loopbaan is.”

-Hartklop begin op Dinsdag, 18 Julie om 20:00 op kykNET.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button