Kleintydbeserings ry nie liggaamsbouer se ambisie in die wiele nie
'n Liggaamsbouer van Montana het die hoogste sport in die wêreld bereik al het dokters kleintyd geen hoop vir haar vermoëns as deelnemer aan sport gehad nie.
Toe sy haar femurbeen op vierjarige ouderdom na ’n ernstige motorongeluk gebreek het en sy haar rug beseer het, moes Zirkia Gregorowski hoor hoe die dokter vir haar ouers sê sy sal moeilik enige sport kan doen.
Sy was in traksie vir ongeveer ’n jaar lank en kon eers aan die einde van haar graad 1-jaar haar krukke weggooi.
Daarna het sy nog nooit opgehou met sport nie en op skool reeds in atletiek uitgeblink.
“Ek dink ek het toe ’n vegtersbrein ontwikkel.”
In Mei vanjaar het sy die dokter finaal verkeerd bewys.
Sy is op 60-jarige ouderdom gekroon as die Internasionale Liggaamsbou en Fiksheid Federasie (IBFF) se Algehele wenner vir Fiksheid, Ligaamsbou en Figuur.
Sy is ook aangewys as die Federasie se Mej. Heelal Kampioen van 2023.
Die prestasie is behaal by die Federasie se Mnr en Mej Heelal se kompetisie einde Mei in Taranto, Italië.
Hierdie prestasie het sy binne vyf jaar bereik. Voor liggaamsbou-kompetisies ’n fokus geword het, het sy aan uithouwedrenne soos die Visrivier- en Kalahari Augrabies Uithou-roete deelgeneem.
Sy het 14 jaar gelede na haar egskeiding, aan uithouwedrenne begin deelneem.
“Harde oefening het my gehelp om my egskeiding te verwerk en ook gehelp met die genesingsproses. Oefening verlig stres,” vertel sy.
Haar internasionale loopbaan in liggaamsbou het begin met ’n terloopse opmerking op sosiale media.
“Iemand het ’n aanmerking gemaak dat my liggaam se bou groot potensiaal inhou vir deelname aan liggaamsbou-kompetisies.”
Die res is geskiedenis. Gegorowski het haar sedertdien bewys deur in talle kompetisies plaaslik en internasionaal deel te neem en te presteer.
Sy het ook deelgeneem in Italië gedurende 2018. Tydens hierdie kompetisie van die Federasie (IBFF) het sy die vierde plek behaal in die Mej. Heelal 40-plus Fiksheidskategorie.
Gedurende 2019 het sy in Slowenië vierde plek behaal in die Federasie (IBFF) se kategorie vir Wêreldkampioenskap en is aangewys as Kampioen Atleet 55-plus.
Sy het boonop ’n voltydse werk as ’n professionele eiendomswaardeerder. Sy tree ook as mentor op vir studente in die waarderingsbedryf.
Sy is reeds 30 jaar verbonde aan die eiendomsbedryf.

Mededinging is ’n woord wat sy goed verstaan.
“By die internasionale kompetisies is spanning hoog en voorbereiding verg baie dissipline. Daar is veel op die spel.”
Volgens Gregorowski verg dit harde werk om op die verhoog te kompeteer en as liggaamsbouer jou beste kenmerke te vertoon.
Sy meen dis selfs harder werk as ’n uitmergelende oefensessie in die gimnasium.
“Met die voorbereiding verg dit ook ysere dissipline en toewyding met jou eetplan. Dis weke van vis, volstruisvleis, broccoli en hoender.”
Die Woensdag voor ’n kompetisie maak sy egter altyd ’n toegewing en eet ’n hamburger.
Vir Gregorowski behels die ure van voorbereiding egter nie net oefening met gewigte nie.
Sy het haarself gedurende Covid-19-grendeltye geleer om tuis met rekke eerder as gewigte te oefen.

“Die resultate is uitstekend met geen noemenswaardige beserings nie.”
Hierdie meer gesonde alternatief vir oefening is iets wat sy graag in haar eie gym, Gym 2 Glo, as werkswyse gebruik.
“Ek het die ‘glow’ woord in die naam ingebring want vroue begin ‘skyn’ as hulle selfvertroue kry. Oftewel, ‘tannies” skyn soos jong meisies.”
’n Gesonde leefwyse moet met oefening gepaard gaan om doeltreffend te wees. Sy gebruik ’n reeks van vitamiene daagliks om haar liggaam te ondersteun.
Sy het in vyf jaar geen beendigtheid verloor nie en skryf dit toe aan oefeninge en ’n gesonde leefstyl.
Sy is onlangs aangewys as die Federasie (IBFF) se president vir Tshwane en nooi atlete uit om aan te sluit by die familie.
“Jy kan op enige ouderdom wegspring en tot ver verby 70-jarige ouderdom aanhou. Dit is die beste selfsorg waarin jy kan belê,” sluit sy af.
Geldghoeroe-broers wys in boek hoe om welvaart te behou
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
